’n Baba wat enkele ure ná haar geboorte weggegooi is, word oorval met liefde en sorg van ’n man van KwaZulu-Natal wat hoop om vir die kleinding ’n tuiste te gee terwyl daar na ’n permanente huis vir haar gesoek word.

Die babameisie is Maandag vroeg in Tongaat, noord van Durban, naby die huis van Ismail Mitha, ’n gemeenskapsaktivis en voorsitter van Emergency Control SA, gevind. Ismail het gesê hy hoop om die kind tydelik aan te neem.

Sy buurman het op die baba afgekom. Sy was in ’n groen sak en in ’n handdoek toegedraai.

“Daar is ’n trap naby my huis waar mense gewoonlik pakkies en wynbottels agterlaat. Niemand steur hulle gewoonlik aan daardie gebied nie. Maar ’n groen sak het my buurman se aandag getrek,” vertel Ismail.

“Hy het die sak oopgemaak en geskrik toe hy ’n baba daarin vind. Hy het nie geweet wat om te doen nie en het my en ’n veiligheidsmaatskappy, Reaction Unit South Africa, gebel. Ek is ook die voorsitter van Emergency Control SA en het die beheerkamer gekontak en hulle gevra om die relevante mense te stuur terwyl ek op pad was daarheen.”

Ismail sê paramedici het die baba behandel en na die Tongaat-kliniek geneem waar daar gevind is sy is ontwater maar gesond.

Bereid om na kleinding om te sien

Ismail sê die kind is tans by die Osindisweni-hospitaal waar reëlings getref word om vir haar ’n tuiste te vind. “Kinderwelsyn is in hierdie stadium by die saak betrokke. Ek het ingetree en probeer om tydelike toesig oor die kind te kry.”

Hy sê die hospitaal het gesukkel om die ma op te spoor nadat vals inligting glo verskaf is. “Die baba is omstreeks 01:45 gebore, maar die kliniek het nie die regte besonderhede nie. Ek het kameras agter my huis. Ek hoop om die beeldmateriaal te bekyk en die ma te identifiseer.”

Sagte plekkie vir kinders

Ismail, ’n pa van ses, sê hy het aangebied om na die kind te kyk omdat hy glo kinders is ’n seën van God.

“Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir kinders gehad. Wat met hierdie kind gebeur het, is verkeerd. Die ma kon aan iemand se deur geklop het, of dalk die kind aan Kinderwelsyn oorhandig het, maar sy het dit net iewers gelos.

“Miljoene vroue daar buite smag daarna om kinders te hê en die vrou gooi die kind weg. Ek kan dit nie verdra nie. Ek is al jare lank in die noodgevalbedryf betrokke. Ek het al dooie babas uit putte gehaal. Dis nie reg nie en plein dom. Die baba kon gesterf het as my buurman nie nuuskierig genoeg was om in die sak te kyk nie. Ons moet kinders meer waardeer en nie sulke goed doen nie.”

Bron: News24

Ook op Huisgenoot.com:

Jeanine Victor se Shaun-Michael kry ’n sussie met die mooiste naam!

Vierjarige seun van Roodepoort gee eerste treë op herstelpad

Kyk om watter roerende rede speel die Bulls in pienk

‘Celeste, ek het nooit jou kind uit jou arms gevat nie,’ sê Zephany se grootmaakma in hof

Jy sal nie glo by watter gewilde Afrikaanse sangeres het die ooievaar kom kuier nie!