Geen inhegtenisneming is nog gemaak ná die moord op ’n gesin op ’n privaat gholflandgoed op Stellenbosch nie, het die Wes-Kaapse polisie Woensdag gesê.

“Die identiteit van die gesin is nog nie in hierdie stadium bevestig nie. Die polisieondersoeke gaan voort,” het kol. Tembinkosi Kinana gesê.

Hy het gesê niemand is vir ondervraging ingeneem nie.

Hy het geweier om bekend te maak hoe die gesin vermoor is of om oor ’n moontlike motief te bespiegel.

Die pa (55), ma (54) en 22-jarige seun is vermoedelik Dinsdag in die vroeë oggendure in hul huis op die gholflandgoed De Zalze-gholflandgoed aangeval.

Lt-kol. André Traut het gesê ’n 16-jarige dogter en 20-jarige seun is beseer en in ’n hospitaal daar naby opgeneem.

Die Cape Argus het die gesin Woensdag uitgeken as Martin van Breda, sy vrou Teresa, en hul drie kinders, Rudi (22), Henri (20) en Marli (16).

Die woordvoerder van Emergency Medical Services, Robert Daniels, het gesê hy kan net kommentaar lewer oor die wonde van die pasiënt wat hulle behandel het en nie dié wat nie vermoor is nie.

“Die pasiënt (Marli) het ’n bylhou teen die kop gekry. Die nekslagaar was afgesny,” het hy gesê.

Die hospitaal waar die meisie behandel word, was nie dadelik beskikbaar om haar toestand te bevestig nie.

- Sapa