Hy is besiger as ooit, is bedrywig op die verhoog en boonop wil hy en die vrou in sy lewe hul eie huisie by die see aanskaf.

“Wat lekker is van my loopbaan nou is dat ek teater, flieks en dramareekse met mekaar kan afwissel. Ek is besig met ’n klomp verskillende goed en ek kan my vaardighede in elkeen verfyn.”

Lees ook: Kwêla se Hannes van Wyk: ‘Ek doen baie huiswerk’

Ons het Neels jare gelede as die eisj-man in die Klipdrift-advertensies leer ken en hy het lank dr. Gideon Basson in die sepie Binnelanders gespeel.

Ons gesels met hom ná sy vertoning Innie Rof by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn. Sy bruin hare is langer as gewoonlik. Hy gly met sy vingers daardeur en probeer sy kuif agter sy oor indruk.

[caption id="attachment_121324" align="aligncenter" width="600"]Foto: Peet Mocke Foto: Peet Mocke[/caption]

“Ek laat dit vir ’n nuwe fliek groei, maar sjoe, dit het skielik vreeslik lank geword. Die plan is om dit terug te jel. Ek speel ’n vreeslike villain.” Hy lag. “Ek lyk amper soos ’n middeljarige Tarzan.”

Hy is binnekort in Deon Opperman se speurdrama Fluiters te sien, hy vertolk ’n rol in die fliek Sonskyn Beperk en later in 2016 sal hy in nog ’n fliek, Finders Keepers, te sien wees.

Lees ook: Diaan en Jody gesels oor die ‘antwoord op alles’

“Die enigste probleem wat ek nou het, is ek kom glad nie op die gholfbaan uit nie. Ek doen shows oor gholf, maar ek speel nie meer gholf nie,” sê hy.

Neels is ’n kranige gholfspeler en die komedie Innie Rof beeld die verskillende “persoonlikhede” uit wat ’n mens op die gholfbaan aantref.

[caption id="attachment_121323" align="aligncenter" width="600"]Foto: Peet Mocke Foto: Peet Mocke[/caption]

Sy meisie, Jeanne Flynn, werk deesdae saam met hom in die bedryf en sy help met verhoogbestuur in die produksie. Sy was ook ’n danser in ’n produksie van NP van Wyk Louw se Raka, wat Neels by die Woordfees gedoen het.

“Die verhouding is op ’n baie gesonde plek. Sy vul my aan en gee my hoop. En hopelik kan ek dieselfde vir haar doen. Sy gaan oral saam met my en dit is vir my lekker om te weet sy is hier, want ’n eenmanvertoning kan maar ’n lonely ding wees.

neels en meisie

“Dis spesiaal om iemand te hê wat jou steun, want dit is ’n moeilike beroep in die sin dat jy jou werk huis toe vat. Jy het woorde wat jy moet leer en jy gaan nie net werk toe en dan is dit klaar nie.”

Hulle het ook onlangs ’n maatskappy, Woodu, begin wat juweliersware en kuns uit hout maak en hoop hulle sal binnekort huiseienaars wees in die omgewing van Bettysbaai en Kleinmond.

“Wie weet wat gebeur in die toekoms. Watch this space.”

Aangesien Neels so lief is vir gholf en selfs ’n toneelstuk daaroor doen, het ons vir hom ’n paar vrae oor gholf gevra:

Wat is jou voorgee?

Agt.

Hoe oud was jy toe jy die eerste keer ’n gholfstok vasgehou het?

Ek het baie laat begin. Ek was laat 20’s. Seker so 29 jaar oud. Dit het my heeltemal gebyt. Dit het gebeur toe ek Johannesburg toe trek vir Binnelanders en ek ’n stokperdjie moes kry wat keer dat ek nie heeltemal mal word nie.

Daar is mos nie ’n see nie en ek is mal oor die see. Toe begin ek maar gholf speel om die Sunday blues te keer. Nou is ek heeltemal hooked. Ek het al op 96 van die top-100 bane gespeel. Die doel is om op al 100 bane te speel.

Hoekom hou jy so baie van gholf?

’n Mens kan altyd beter word en na vooruitgang streef; dit stimuleer my. Jy kan swakker raak ook. Al tyd wat ek het, bring ek saam met my vriende op die gholfbaan deur en dit is lekker om die twee te kan kombineer. Boonop is dit ’n spel wat in die buitelug gespeel word, wat jou van die meeste van jou sorge kan laat vergeet. Ek dink dit is ’n baie positiewe ding om afleiding en oefening op dieselfde tyd te kan kry.

Wie bewonder jy in gholf?

Ek hou van Seve Ballesteros; hy is my gunsteling. Maar hy is al oorlede. Hy het homself so in die dinges ingeslaan en dan het hy altyd ’n manier gekry om hom weer daar uit te kry. Ek hou daarvan. Die feit dat jy jouself kan redeem. Dis seker maar in ’n mate hoe ek ook in my lewe is.

Gunsteling-baan?

Highland Gate op Dullstroom, die Parys-gholfklub en Fancourt in George.

Stap jy of ry jy gholfkarretjie?

Ek verkies om te stap, maar as die tyd dit nie toelaat nie, sal ek met die gholfkarretjie ry. Of as die son baie warm is, om te keer vir uitputting.

Het jy ’n gunsteling-speler saam met wie jy graag speel?

Jeanne, my nooi. Sy speel nogal lekker gholf.

Het jy al kolhou geslaan?

Nee, nog nie. Ek het al ’n paar arende geslaan, maar nog nie ’n kolhou nie. Ek was al naby, maar dit sal nog kom.

- Marelize Potgieter

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Babahondjie ontsnap kake van ’n luislang

Kyk: Die internet op hol oor ‘papierdun’ vroue

Lianie May verklap iets oor haar gesondheid wat aanhangers nie geweet het nie

Anneli van Rooyen praat oor haar siekte: ‘Soms is daar amper niks van my oor nie’