Die Switserse lugvervoerassosiasie Rega het Dinsdag gesê hulle het ’n kriminele klag ingedien teen naamlose verdagtes wat bladsye uit die voormalige Formule Een-kampioen Michael Schumacher se mediese lêers probeer verkoop het.

Rega, wat in Zürich gebaseer is, het regstappe gedoen nadat die Franse koerant Le Dauphiné libéré berig het dit blyk die rekenaar waarvan die rekords afgelaai is, behoort aan ’n groot helikopter-onderneming in Zürich.

Die organisasie sonder winsbejag het hul betrokkenheid in die beweerde misdaad ontken.

“Rega het geen rede om te glo werknemers het onbetaamlik opgetree nie, dus assesseer hulle dat geen pasiëntregte geskend is nie.

Mediese vertroulikheid is ook behou,” het hulle gesê. Maar hulle het die waarheid bevestig van die deel van die koerantberig wat noem dat Rega in mediese konsultasies betrokke was voor Michael op 16 Junie van die Franse stad Grenoble oorgeplaas is na ’n hospitaal in Lausanne, Switserland.

Rega het bygevoeg hulle het ’n mediese lêer ontvang en die vervoer gereël nadat Michael uit sy koma ontwaak het.

Die voormalige renjaer het op 29 Desember tydens ’n ski-vakansie kopbeserings opgedoen. ’n Paar dae nadat hy in Lausanne aangekom het, is sowat 12 bladsye van die vertroulike mediese verslag teen sowat R680 000 aan verskeie mediagroepe te koop aangebied.