Tina Turner het 70 000 wit en rooi rose vir haar onthaal laat invoer nadat sy die naweek met Erwin Bach getroud is.

Die sangeres (73) en die Duitse musiekbaas (57) is al 26 jaar saam en het Saterdag in ’n intieme seremonie ewige trou aan mekaar gesweer. Dis gevolg deur ’n uitspattige onthaal by hul huis in Kueshacht naby Zürich in Switserland.

Volgens die koerant Sonntagsblitz is 70 000 rose uit Nederland ingevlieg vir die onthaal, waar 120 gaste Tina en Erwin in ’n Boeddhistiese seremonie geseën het.

Volgens die gelooftradisie moes die vroue wit dra en almal teenwoordig moes water oor die pasgetroudes se hande gooi.

Die sanger Bryan Adams (53) het vir die vermaak gesorg; hy het All for Love vir egpaar gesing. Die Duitse rockster Herbert Grönemeyer (57) het ook ’n emosiebelaaide toespraak oor Tina en Erwin se verhouding gemaak. Oprah Winfrey (59) het voor die seremonie glo gesê: “Dit gaan ’n partytjie wees dié om te onthou.”

Tina en Erwin het in 1987 begin uitgaan terwyl hy as ’n vervaardiger gewerk het by die platemaatskappy EMI. Tina was voorheen getroud met Ike Turner, maar hulle is in 1976 uitmekaar omdat hy haar mishandel het. Hy is in 2007 dood. Tina woon al sedert 1995 saam met Erwin in Zürich en het vroeër vanjaar aansoek gedoen om Switserse burgerskap.