Samuel en die honde is na afsonderlike hospitale geneem vir behandeling vir bysteek, maar die Amerikaanse veghond Ken het dit nie gemaak nie.

Die egpaar se dogter, Elize Liebenberg, het aan Huisgenoot vertel haar ouers was Maandag in die huis doenig toe hulle hoor Ken en Dolly, ’n Jack Russell-hondjie, “lawaai verskriklik” buite in die erf. Hulle het uitgehardloop om te gaan kyk en koerante aan die brand gesteek om die bye van die honde te verdryf, maar is in die proses ook erg bygekom.

Hulle het eindelik daarin geslaag om die bye lank genoeg op ’n afstand te hou om met die honde die huis in te hardloop.

Die egpaar se jongste dogter, Samantha Chandler, het intussen vir Elize gebel, wat daar naby woon. “Toe ek daar kom was my pa se lyf opgeswel en hy het gesukkel om asem te haal. Ek het dadelik met hom na die naaste hospitaal gejaag,” het Elize vertel. “Hy was vol angels; hy is seker 50 keer gesteek.”

Op pad hospitaal toe met haar pa het Elize in stadige verkeer beland weens ’n padblokkade, maar die verkeersbeamptes gevra om haar na ’n hospitaal te begelei. By die hospitaal het haar pa suurstof ontvang, asook behandeling om die byegif teen te werk.

Haar ma, Elsabe, wat minder bysteke gehad het, het intussen met haar eie motor die honde na die Somerset Wes-dierehospitaal geneem. Maar vir die egpaar se Amerikaanse veghond was dit te laat – Ken was dood met sy aankoms by die dierehospitaal.

[caption id="attachment_139737" align="alignnone" width="580"]Die egpaar Die egpaar se Amerikaanse veghond, Ken, is dood in die aanval.[/caption]

Die Wes-Kaapse byeboer Dawid Smit het gewaarsku jy moet nooit ’n by se angel uit jou lyf probeer trek nie. Sodoende plaas jy druk op die gifsakkie in die angel, wat die gif dan vinniger in jou lyf laat versprei. Krap die angel met ’n skerp voorwerp af.

As jy dit uitkry, kan jy asyn of koeksoda oor die steekplek smeer om die gif te probeer uittrek. Maar enigiemand wat ’n allergiese reaksie toon, moet dadelik by ’n hospitaal kom.

Dit is glo glad nie ongewoon dat honde weens bysteke sterf nie – die gif kan vir hulle net so dodelik wees soos vir mense.

Samuel en Dolly is weer tuis, maar die Jack Russel mis haar hondemaat. Volgens Elize weet niemand waar die swerm vandaan gekom het nie.