HULLE is jonk, ryk en suksesvol en spog met hul rykdom asof dit ’n erewapen is. Sakke vol geld, hope blinkgoed en ’n uitnodiging na elke groot sosiale geleentheid is deel van die leefwyse van die nuwe geslag miljoenêrs van die 21ste eeu.

Hulle ry in luukse motors rond, dra ontwerpersonbrille – selfs in die aand – en dra graag enigiets met etikette van Prada, Versace en Dior. Hul skoene blink, hul peperduur juwele verkondig hoe suksesvol hulle is, en oral waar hulle gaan, tou ’n span lyfwagte en ’n klomp aanhangers agterna.

Hulle is die produkte van demokrasie: suksesvolle swart Suid-Afrikaners wat nie verskoning vra vir hul rykdom en luukse leefstyl nie.

Sedert 1994 is daar ’n stewige toename in swart miljoenêrs wat baat vind by winsgewende Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) kontrakte, regeringstenders of self sukses as entrepreneurs behaal het.

Suid-Afrika is nou vierde op die lys lande waar dollarmiljoenêrs die vinnigste toeneem, ’n kortkop agter Suid-Korea, Indië en Rusland. Dis ’n regstreekse uitvloeisel van suksesvolle ekonomiese groei in die land.

Met mense soos Kenny Kunene, Mandla Mthembu, Khanyi Mbau en ander ryk swartes wat die sosiale toneel met hul sien-en-word-gesien-leefstyl oorheers, raak gewone mense álmeer van die opgang van die swart ryk individu bewus.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 24 Februarie 2011

Bespreek vir Skouspel!