Zara Phillips het besluit sy gaan vir die res van haar swangerskap nie perdry nie.

’n Woordvoerder het onthul die kleindogter van koningin Elizabeth II het die sport vir eers gelos om voor te berei op die koms van haar en haar man, Michael Tindall, se eersteling.

Die woordvoerder het gesê: “Al Zara se perde het nou vir die geleenthede gekwalifiseer waarin sy hulle vir volgende jaar wil inskryf.

“Sy het hierdie seisoen reeds baie goed gevaar. Dit is nie eintlik vir haar nodig om verder deel te neem nie. Gegewe dat sy swanger is, het sy besluit om die res van haar inskrywings vir die jaar te kanselleer.”

Verteenwoordigers van die Britse koninklike perderuiter het bespiegelinge oor haar gesondheid ter ruste gelê. Hulle het daarop gewys sy tree bloot “verstandig” op ten spyte van ’n onlangse verklaring waarin haar planne uitgestippel is om met die sport voort te gaan.

Die woordvoerder het verder gesê: “Soos voorheen gesê, sy voel piekfyn en volg al die mediese raad van haar dokters. Sy is net verstandig hieroor.”

Terwyl die baba eers volgende jaar verwag word, sien die Britse koninklike familie gretig uit na die koms van die hertog en hertogin van Cambridge se eerste baba wat nou enige dag verwag word.