Die voorval het omstreeks 08:00 Dinsdagoggend in Voortrekkerweg in Goodwood plaasgevind. 

Luidens berigte het ER24-paramedici die vrou gevind waar sy langs die pad gelê het.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê met hul aankoms op die toneel was plaaslike owerhede reeds daar.

“Paramedici het die vrou gevind met ’n skietwond aan haar bors wat haar in ’n ernstige toestand gelaat het. Die vrou is ook swanger.  Sy is behandel vir haar beserings en gevorderde lewensondersteuning is verskaf.”

Volgens Russel is die pasiënt na die Tygerberg- provinsiale hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê twee onbekende mans het die transito-veiligheidswagte genader.

"Verskeie skote is deur die verdagtes afgevuur en hulle het ’n vroulike voetganger gewond. Die verdagtes het met ’n onbekende bedrag geld gevlug en is nog nie in hegtenis geneem nie."

Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.