Die voorval het verlede Vrydag gebeur toe Fredzania Thompson (19) deur ’n vriend afgeneem is, berig die Britse koerant The Telegraph.

Dit was haar eerste fotosessie en ’n poging om ’n modelportefeulje op te bou.

Fredzania het tussen twee treinspore gestaan. ’n Trein het op die een spoor aangekom en sy het na die ander spoor beweeg om uit die aankomende trein se pad te kom.

Sy was klaarblyklik onbewus van ’n tweede trein wat vanuit die teenoorgestelde rigting op die ander treinspoor aangekom het. Sy is toe deur die tweede trein getref.

Sy is op pad na die hospitaal oorlede.

Fredzania se ma, Hakamie Stevenson, het aan The Eagle gesê haar dogter het meer in modelwerk belanggestel en haar studie aan die Blinn College in Bryan gestaak.

Boonop het sy onlangs vir haar verloofde, Darnell Chatman (25), gesê sy is swanger.

Justin Leeth, hoof van die Navasota-polisie, het aan CNN gesê geen misdaad word vermoed nie.