Nadat Neysi Perez van die dorp La Entrada in die weste van Honduras by haar huis ineengestort het, is sy dood verklaar.

Toe ’n rits geweerskote buite haar huis afgevuur word, het die tiener (16), wat drie maande swanger was, weens ’n paniekaanval inmekaargesak.

Daar het skuim by haar mond uitgekom, en die tiener se gelowige ouers het gedink sy is dalk besete. Pleks van haar hospitaal toe neem, het hulle dadelik ’n plaaslike priester laat kom “om die duiwel uit haar te dryf”.

Tydens die uitmergelende proses het haar liggaam ingegee, waarna sy eindelik hospitaal toe geneem is. Daar het dokters haar ’n paar uur later dood verklaar. Neysi, wat onlangs getroud is, is toe in haar trourok begrawe.

’n Dag ná die begrafnis het haar man, Rudy Gonzales, haar graf besoek. Groot was sy skok toe hy gedempte gille en stampe in die graftombe hoor.

Videomateriaal wys hoe van Neysi se familie kort daarna desperaat probeer om haar uit haar kis te bevry. Die tombe word met voorhamers bygekom, en die kis word eindelik uit sy sementgraf losgewikkel.

Daarna is Neysi, steeds in haar kis, na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Mediese personeel het haar probeer bybring, maar sy is weer dood verklaar. Haar liggaam is teruggeplaas in die kis en teruggeneem na die begraafplaas.

Dokters glo nou die aanvanklike paniekaanval wat Neysi ervaar het, het haar hart tydelik laat stop. Dit het daartoe gelei dat sy die eerste keer dood verklaar is. Haar uiteindelike dood was waarskynlik weens ’n suurstoftekort in haar kis.

Neysi se ma, Maria Gutierrez, is vas oortuig haar dogter is lewend begrawe en hou vol die mediese personeel het haar te gou dood verklaar.

Haar blydskap ná haar dogter se “terugkeer vanuit die dood” was egter van korte duur.

“Ons was almal so bly. Ek het gedog ek gaan my dogter terugkry,” het Maria gesê.

Bronne: Daily Mail, mirror.co.uk, Irish Independent