“Om my eie pa agter tralies te laat beland was bitter moeilik, maar dit was die regte ding om te doen” sê Cora Patterson van Bolton in die noordweste van Engeland.

’n Video wat die ronde op Facebook gedoen het waarin mense gevra word om twee moontlike inbrekers te help identifiseer, het haar aandag getrek.

Sy het nie net een nie, maar albei die mense herken. Die een was haar pa, Colin. Die tweede persoon was sy suster en haar tante, Janine!

Die twee het by ’n bejaarde vrou, Marlene Stott, se huis ingebreek en juweliersware gesteel. Ongelukkig het hulle die doeltreffendheid van die kring-TV-kameras onderskat.

“Ek het so kwaad en skaam gevoel. Toe plaas ek hul name en besonderhede op Facebook. Ek het baie sleg gevoel vir die mense by wie se huis hulle ingebreek het."

“Ek is beslis nie die een wat skuldig moet voel nie.”

Nadat hy in hegtenis geneem is, het Colin glo ’n teksboodskap aan sy dogter gestuur waarin hy haar vertel dat hy steeds lief is vir haar. Sy moet ook nie skuldig voel oor wat sy gedoen het nie.

Die koelkop-tiener sê dié boodskap van haar pa was bloot net uit sy eie selfsug en aandagsoekery gestuur. “Ek is beslis nie die een wat skuldig moet voel nie.”

Vir Colin, wat reeds 34 vorige aanklagte van inbraak teen hom het, wag vier jaar agter tralies. Hy sal dus nie teenwoordig kan wees wanneer sy eerste kleinkind binne die volgende vier maande sy of haar opwagting maak nie.

Janine is gelukkiger. Sy hoef net 30 maande in die tronk deur te bring.

Regter Timothy Stead het groot lof vir Cora se optrede. “Dit verg heelwat moed om dit te doen. Wat my betref, verdien sy eervolle vermelding.”

Bronne: nypost.com, newsexplored.co.uk, news.com.au