Die foto is geneem tydens die viering van haar ma, Ronel Brink, se verjaardag. 

Karlien het beeldskoon gelyk in ’n stylvolle swart rok wat afgerond is met tierprente.  

“#eyeofthetiger Ek en my babamagie uit vir ma, Ronel Brink, se verjaardagviering. Gelukkige verjaardag, Ma. ONS IS LIEF VIR MA, maar baie ???? ,”  lui die foto se onderskrif.

Aanhangers van die popprinses van die Afrikaanse musiekwêreld kon nie uitgepraat raak oor hoe mooi sy lyk nie.

Karlien het aan die begin van Junie die eerste keer op Instagram ’n foto gedeel waar sy haar groeiende “pensie” wys.

Sy is vroeër vanjaar stil-stil getroud met die man van haar drome, Joe Breytenbach (33). 

Hulle het in Mei teruggekeer van hul wittebrood aan die Amalfi-kus in Italië, van waar Karlien die blye nuus gedeel het dat hul eersteling op pad is. 

Karlien is reeds die ma van ’n tweeling, Eliah en Daniël (nou drie), uit haar huwelik met die voormalige Springboklosskakel Derick Hougaard. 

Sy het onlangs aan Huisgenoot vertel sy en Joe wil die geboortedatum van hul eersteling privaat hou, maar verklap hul kleinding behoort “iewers aan die einde van die jaar” sy of haar opwagting te maak. 

“Om ’n ma te wees is my gunsteling-, gunstelingrol in die wêreld,” het sy toe gesê. “Ek voel dikwels as sang nie ’n roeping in my lewe was nie, sou ek maklik net ’n ma kon wees.”

Die gewilde sangeres, wie se nuwe album Sing vir Liefde binne ’n maand goue status bereik het, verfilm Vrydag die musiekvideo vir Dans in die Reën.  

Sy het onlangs vertel die liedjie, wat sy saam met Johann Vorster en Christoph Kotzé geskryf het, is opgedra aan Joe.

Van die lirieke lui: Dis asof jy reg deur my kyk / Dis wat jy aan my doen. / Ek wil net dans, dans in die reen / Ek wil dans tot jy omkyk. Al dans ek alleen. Ons hoef nie te praat nie / want niks maak meer saak nie. / Kom ons dans in die reën.