Die skeptici was reg

Die verhaal van Natalie Amyot, die Franse toeris wat swanger geraak het ná ’n “pragtige” nag van hartstog saam met ’n aantreklike, jong Australiër wat gister soos ’n veldbrand op die internet versprei het, was toe die hele tyd ’n toerismebemarkingsfoefie.

Natalie (26) het wêreldwyd die nuus gehaal nadat sy ’n video op Facebook en YouTube geplaas het waarin sy beweer sy gaan terug na Australië om die pa van haar kind op te spoor. Dit het egter gister aan die lig gekom Natalie heet eintlik Alizee Michel en studeer bemarking en toerisme in Australië studeer.

’n Opvolgvideo is op “Natalie” se YouTube-blad gelaai waarin die mooi brunet sê: “Ek het hom opgespoor,” voor sy eenkant toe staan vir ’n blondekopman met blou oë wat dan sê: “Dit was ’n video vir Holiday Mooloolaba.

“My naam is Andy Sellar en ek besit ’n maatskappy genaamd Sunny Coast Social Media. Ons maak video’s vir ondernemings.

“Ek weet baie van julle gaan ontsteld wees hieroor . . . julle gaan dalk nie te gelukkig wees nie. Maar die jong dame was net ’n vrywilliger. Ek het al die werk op Facebook en YouTube gedoen en al die vrae beantwoord.

"Sy het niks daarmee te doen gehad nie; sy was letterlik net ’n aktrise. Ons wil net Mooloolaba se naam vestig, want dis ’n wonderlike plek. Dankie dat julle gekyk het en ons gaan nog baie, baie sulke video’s maak.”

Nadat die video versprei is, het ’n kyker opgemerk dis ’n bietjie vreemd dat Natalie nie haar minnaar se naam geken het nie, hoewel sy beweer het dat sy nommer op haar foon geberg het.

Jordan Foster, ’n pel van Alizee, het aan Daily Mail Australia gesê die aktrise studeer al ’n “paar jaar” aan die Universiteit van Sunshine Coast en is in ’n verhouding.

Bron: MailOnline