Hulle het ’n verwantskap gevind tussen ’n ongesonde leefstyl in ’n persoon se tienerjare of 20’s en die welstand van hul kinders, selfs jare voor bevrugting.

Probleme soos vetsug wat deur leefstyl veroorsaak word, kan dalk na die volgende generasie oorgedra word. Australiese navorsers glo hulle het “oorweldigende bewyse” ontdek dat hierdie gebrek aan gesondheid ’n uitwerking op die ma se eier of die pa se sperm kan hê. Hulle noem dit “vooraf programmering”; hierdie verskynsel word al sowat 10 jaar nagevors.

“Mense het eers gedink leefstyl maak nie saak nie, want ’n kind verteenwoordig ’n nuwe begin.

“Die werklikheid is dat ons nou met groot sekerheid kan sê ’n kind begin nie heeltemal van nuuts af nie – hulle dra reeds ’n verskeidenheid faktore van hul ouers se ervaringe wat ontwikkeling by die fetus en ná geboorte beïnvloed,” sê prof. Sarah Robertson van die Universiteit van Adelaide.

Die bevindinge is in die joernaal Science opgeteken. Die navorsers het bevind babas wie se ouers toestande soos diabetes of immuniteitsafwykings het, meer geneig is om hierdie probleme te erf.

Die ouers se optrede in die drie maande voor bevrugting dra die meeste gewig, want dit is wanneer eier en sperm in die laaste ontwikkelingstadium is. Maar dit beteken nie enige gedrag voor dit gaan nie ’n uitwerking hê nie.

“Baie van ons dade voor die bevrugting gaan ’n impak op die toekomstige ontwikkeling van die kind hê – van die ouers se ouderdom, ’n swak dieet, vetsugtigheid, rook en baie ander faktore. Dit alles beïnvloed die omgewingseine wat die embrio ontvang,” het prof. Robertson bygevoeg.

Hierdie navorsing het ook bygedra tot die Darwinistiese teorie dat ’n baba se lot lang voor sy geboorte bepaal word.

Maar hierdie ontdekking is nie net slegte nuus nie. As ’n ouer byvoorbeeld in ’n stadium honger ly, beteken dit die kind gaan ook met minder kos oor die weg kan kom. Maar as hulle te veel eet, kan dit aanleiding gee tot siektes spps diabetes; toekomstige ouers moet dus versigtig wees.

“As toekomstige ouers ’n paar leefstylveranderinge maak, veral in die maande voor bevrugting, kan dit ’n blywende, positiewe voordeel vir die toekoms van hul kind inhou,” het prof. Robertson afgesluit.

- Cover Media