Die minister van justisie, Chris Grayling, het aan die koerant Mail on Sunday gesê: “Dit is ’n wet om wreedheid te beveg – dit bewys ons vasbeslotenheid om ’n aggressiewe aanlyn groep teen te staan.”

Daar is in Brittanje toenemend kommer oor die groeiende groep internet-trolle wat hatige boodskappe op sosiale media plaas en dikwels hul teikens dreig.

Die ouers van die vermiste Madeleine McCann is onder die jongste slagoffers, en verlede maand is ’n man 18 weke tronkstraf opgelê vir wat aanklaers beskryf het as “ ’n haatveldtog” teen ’n vroulike wetgewer.

“Hierdie internet-trolle is lafaards wat ons nasionale lewe vergiftig. Niemand sou persoonlik sulke venyn toelaat nie; daar moenie plek daarvoor op sosiale media wees nie,” het Chris gesê.

“Dit is hoekom ons vasbeslote is om die huidige vonnis van ses maande te verviervoudig.

Slagoffers het sulke reëlings verwelkom, en prokureurs verwag ’n toename in die vonnisse van veroordeelde trolle.

“Daar is openbare belang in mense lang vonnisse gee. Iemand vrees vir hul lewe en vrees vir fisieke skade,” het Chris Holder van die Londense firma Bristows vroeër vandeesmaand aan AFP gesê.

“Ek dink die wet sal ontwikkel en die vonnisse sal ál langer raak.”

Maar dié ten gunste van vryheid van spraak het al gewaarsku kriminele sanksies moet die laaste uitweg wees.

“Wil ons elke soort gedrag kriminaliseer wat ons problematies vind?” het Barbora Bukovska, ’n senior direkteur by die veldtog-groep ARTICLE 19, vroeër vandeesmaand gevra.