20 kinders* moes Saterdag na hospitale in Johannesburg gehaas word ná hulle glo suur ingeasem het.

Daar is aanvanklik gedink dat die suurwalms deur swembadsuur veroorsaak is.

Die kinders, waaronder ’n vier maande oue babatjie, het by die Zoo Lake-swembad in Johannesburg geswem.

Volgens ’n verklaring van die nooddiens Netcare 911 het die kinders omstreeks 16:00 Saterdagmiddag simptome van asemhalingsiekte getoon.

“Paramedici van Netcare 911 en die polisie het eerste by die toneel opgedaag,” lui die verklaring. Die Johannesburgse brandweerdiens was ook op die toneel.

Eyewitness News het Sondagaand berig dat die walms wat deur die kinders ingeasem is, eintlik van ’n middel gekom wat gebruik word om dreine mee te ontblok.

Burgerskomitee-lid vir gemeenskapsontwikkeling, Nonhlanhla Sifumba het aan EWN gesê dat die wind die suurwalms in die rigting van die kinders gewaai het ná dit by ’n nabygeleë drein gebruik is.

Die kinders is glo reeds uit die hospitaal ontslaan.

* Daar was aanvanklik berig 33 kinders is geaffekteer. Hierdie getal is intussen verminder tot 20.