Meer as ’n maand ná ’n tref-en-trapongeluk weet Daniël Wells (22) se suster steeds nie wat die dag van die ongeluk gebeur het nie.

Daniël was op 1 Oktober die slagoffer van so ’n ongeluk. Sy suster, Eva-Mari Wells (25), sê sy kon nog nie nog inligting oor die ongeluk kry nie. “Ek wil self na die plek ry waar dit gebeur het, maar dit was net nog te besig vir my om daarby uit te kom.” Die Wells-sibbes se ouers is albei oorlede.

Ná die ongeluk is Daniël aanvanklik in die trauma-intensiewesorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria behandel. Later is hy na die hoësorgeenheid verskuif, maar hy word nou weer in die hoësorgeenheid behandel.

Eva-Mari sê aanvanklike antibiotika het nie gehelp nie. Altesaam 1,5 L ontsmette vloeistof is uit sy buik getap. Haar broer ontvang tans ’n 14-dag-antibiotikakursus, wat help. Hy moet egter steeds in isolasie behandel word weens die gevaar van ontsteking omdat hy die afgelope drie weke met ’n oop buik lê. Die been tussen sy linkerskouer en -elmboog is ook morsaf gebreek in die ongeluk.

Weens die risiko van sepsis kan nie nou op hom geopereer word nie. “Later sal sy buik met ’n veloorplanting toegemaak word.”

’n Been in sy voet is in die ongeluk gebreek en het deur sy vel gesteek ná die ongeluk. Die been is intussen teruggetrek na binne en toegewerk. Eva-Mari sê twee van Daniël se tone is pikswart en daar word nog oor ’n moontlike amputasie gekonsulteer. “As dit net so gelos word, kan die tone ook self afval.”

Daniel wells2

Eva-Mari sê die afgelope week is morfienbehandeling gestaak, maar hy ontvang nou weer dié pynmiddel weens ernstige pyn. “Hy kommunikeer maar deur kopknikke,” sê sy.

Die sibbes werk saam as kontrakteurs en pendel tussen Witbank en Pretoria vir werk. Hul ma is ’n jaar gelede oorlede en hul pa reeds agt jaar gelede.

Sy vermoed haar broer het sigarette gaan koop toe hy getref is, want ’n pakkie sigarette, waarvan net een gerook is, ’n aansteker en geld is by hom gevind.

Die afgelope week het sy by haar broer probeer uitvind wat gebeur het. “Hy het toe iets geskryf van ’n wit bakkie en sekuriteit, maar ek weet nie of dit met die ongeluk te doen het of met iemand wat ná die ongeluk stilgehou het nie,” sê sy.

Eva-Mari doen ’n beroep op enigiemand wat die ongeluk gesien het om na vore te kom. “Iemand moet pa staan daarvoor,” sê sy.