Al word daar gevrees dat hulle pa hulle leed kan aandoen, is twee sussies van eMalahleni (voorheen bekend as Witbank) in Mpumalanga ná byna ’n jaar steeds vermis nadat hulle na bewering deur hul pa ontvoer is.

Tammy Pietersen (11) en haar sussie, Natasha (6) was in pleegsorg toe hulle op 29 Desember 2015 by hulle pa, Gideon Petrus Pietersen (55), gaan kuier het.

Volgens kapt. David Ratau, polisiewoordvoerder van die Witbank-polisiekantoor, is hulle op 6 Januarie daar as vermis aangemeld. Gideon was veronderstel om die kinders op 4 Januarie weer in pleegsorg terug te besorg.

Die kinders se ma het volgens David aan die polisie gesê haar man het gedreig om die kinders leed aan te doen, voordat hy met hulle in ’n rooi Fiat Uno verdwyn het.

Pink Ladies, ’n organisasie wat hom beywer om vermiste kinders op te spoor, het na hul verdwyning plakkate van die meisies en hul pa se foto’s op sosiale media begin versprei.

Dessie Rechner, direkteur van Pink Ladies, sê hulle moes in die belang van die minderjarige meisies optree en het deurmiddel van ’n hofbevel skriftelike toestemming bekom om die kinders se foto’s te plaas, hul identiteit en die basiese feite van die omstandighede bekend te maak.

“Ons enigste doel voor oë is om die kinders, soos enige vermiste persoon na wie ons soek, weer veilig terug te kry. Van daar moet die gereg sy gang gaan,” het sy aan Huisgenoot gesê.

Volgens die polisie het Pink Ladies onlangs inligting ontvang dat die kinders opgemerk is. Dié inligting moet egter nog bevestig word.

Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. Andries de Lange by 083-570-8851 of Dessie by 072-214-7439 bel.

Die registrasienommer van die Fiat Uno waarin hulle verdwyn het, is CJT 685 MP.