Tydens ’n gespreksessie oor vroue in die fliekwêreld, waar sy en haar medester Geena Davis as deel van die 25ste herdenking van die ikoniese fliek Thelma and Louise aan die woord was, was die uitgesproke Susan aanvanklik nie van plan om enigiets oor Woody te sê nie.

Toe ’n verslaggewer haar tydens dié geleentheid uitvra oor wat sy dink van Woody Allen se mediakonferensie by die fees, het sy aanvanklik gesê: “Ek het niks goed oor hom te sê nie, so ek dink nie ons moet daar gaan nie.”

Maar nadat sy aangepor is om wel meer oor hom te sê, het dié plofbare stelling kwytgeraak: “Ek dink hy het ’n kind seksueel aangerand en ek dink nie dis reg nie . . . Dit het nou baie stil geraak hier, maar dit is die waarheid.”

Susan glo vas Woody het sy en Mia Farrow se aangenome dogter, Dylan, seksueel gemolesteer.

Lees ook: Moontlik verdoemende getuienis teen Cliff Richard dalk binnekort bekend

Sy maak lank reeds daarvan geen geheim dat ’n ouer man wat met ’n 15-jarige meisie seks het nie aanvaarbaar is nie.?

In Julie 2014 verduidelik sy haar weersin in Woody Allen. “Ek dink hy het daardie gesin op ’n gruwelike manier uitmekaar geskeur en glad nie die nagevolge trotseer nie.”

Dylan Farrow het reeds in Februarie 2014 die wêreld geskok toe sy bekend gemaak het dat Woody haar glo as sewejarige seksueel aangerand het. Sy het ’n ope brief aan The New York Times gestuur. Dit was haar eerste openbaarmaking van hoe sy onder Woody se hande deurgeloop het.

Sy het die brief begin met ’n vraag: “Wat is jou gunsteling Woody Allen fliek?” En toe die skok-onthulling dat hy haar in ’n solder, soortgelyk aan ’n soort kas met skamele lig, gemolesteer het.

“Hy het my seksueel aangerand. Hy het met my gepraat terwyl hy dit gedoen het, gefluister dat ek ’n soet meisie is, dat dit ons geheim sou wees.”

Dylan het gesê dat Woody vir solank as wat sy kan onthou, dinge met haar aangevang het waarvan sy nie gehou het nie.

“Ek het nie daarvan gehou dat ek saam met hom in die bed moes klim terwyl hy net sy onderbroek aangehad het nie.”

Haar grafiese beskrywing van wat plaasgevind het, en die verwarring in haar jong gemoed – “ek het gedink dit is hoe pa’s wat versot op hul dogters is, optree” – het haar ná die voorval in die solder laat besef dit is nie hoe dit moet wees nie.

Dylan se ope brief is met groot skeptisisme beskou. Van Woody se aanhangers het haar beskuldig van sensasie, dat dit bloot ’n manier was waarop sy haar ma, Mia Farrow, se beweringe teen hom verder sou ondersteun. Mia sou na bewering wraak op Woody wou neem as gevolg van sy verhouding met een van hul aangenome kinders.

Woody se regsman, Elkan Abramowits, het dit as leuens deur ’n wraakgevulde minnaar afgemaak. “Mnr. Allen het die artikel gelees en vind dit onwaar en ’n skande.”

Lees ook: ‘Sit jou voet neer teen seksuele geweld,’ sê veertienjarige

Daar was reeds in 1992 gerugte dat Woody allesbehalwe die perfekte pa vir sy aangenome kinders was. Mia het Dylan op 6 Augustus 1992 na ’n pediater geneem soos wat wetgewing met betrekking tot seksuele oortredings bepaal het.

Woody en Mia Farrow het uitmekaar gespat nadat sy verhouding met een van hul aanneemkinders, Soon-Yi Previn, bekend geraak het.

Vandag is die paartjie is reeds 23 jaar saam. Woody is ’n allemintige 35 jaar ouer as sy lewensmaat. Die twee het in 1980’s ’n verhouding aangeknoop. Woody het na bewering gesê dat hy bloot gedink het hulle verhouding sou bloot net ’n affair gewees het. Die twee is in 1997 getroud en het twee dogtertjies aangeneem.

Tot vandag toe ontken Woody alle bewering heftig. In die Time-tydskrif van Augustus 1992 ontken hy boonop dat hy enigsins Soon-Yi se pa of stiefpa was. Soon-Yi se reaksie in dieselfde artikel was iets in der voege: “Ek was nie verkrag, gemolesteer of gemanipuleer nie. Ek is ook nie vertraag of intellektueel stadig soos wat Mia mense wil laat glo nie.”

Maar op 11 Mei 2016 het Ronan Farrow ook opspraakwekkende stellings tydens ’n onderhoud gemaak.

“Om in die media betrokke te wees toe my suster se storie hoofopskrifte was, en Woody Allen se openbare betrekkinge enjin tot aksie oorgegaan het, het dit my getref hoe magtig die druk kan wees om die maklike uitweg te kies.”

Hy noem voorts dat talle koerante in 2014 nie aan Dylan se storie wou raak nie.

Eindelik het The New York Times haar die grasie van 963 woorde aanlyn gegun.

Ronan sê hy het finaal besef Dylan was reg toe sy haar foltering verduidelik het in die nasleep van kragtige stemme wat haar aantygings opsy geskuif het . . . en ook die vrese wat sy gehad het oor jong meisies wat ook moontlik aan ’n seksuele “roofdier” blootgestel kan word.

“Ek glo my suster,” gaan hy voort. “Dit was altyd waar van ’n broer wat haar vertrou het en, selfs as ’n vyfjarige, gepla was deur ons pa se vreemde gedrag rondom haar: in die middel van die nag in haar bed klim, haar forseer om sy duim te suig . . .”

Bronne: theguardian.com, dailymail.co.uk, time.com, nytimes.com, hollywoodreporter.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Buffels tref motor met ’n reuseslag toe leeus op trop jag maak

Kovsies maak skokaankondiging rakende hul rektor, prof. Jonathan Jansen

Christopher Panayiotou terug in hof ná nuwe feite glo aan die lig kom

Tweede verdagte in Winnie Rust-moordsaak vasgetrek

Voormalige Mej. SA oorleef gru-ongeluk