susan-boyle

Susan Boyle het bekendgemaak Asperger se steuring, ’n vorm van outisme, is by haar gediagnoseer. Sy hoop mense sal haar nou beter verstaan.

Die 52-jarige sangeres, wat in 2009 roem verwerf het in Britain’s Got Talent, het ’n jaar gelede by ’n spesialis aangeklop en is verlig sy het ’n naam vir haar toestand. Die simptome is onder meer probleme met sosiale interaksie.

“Ek het nog altyd geweet daar is ’n onregverdige etiket op my geplaas,” het sy aan The Observer gesê. “Noudat ek ’n duideliker begrip het van wat skort, voel ek verlig en ’n bietjie meer ontspanne oor myself.”

Die Skotse sangeres, wat voorheen behandeling vir uitputting gekry het toe sy gesukkel het om die druk van roem te hanteer, hoop mense sal nou die uitdagings waardeur sy in die gesig gestaar word, beter verstaan.

Die sangeres van I Dreamed a Dream het gesê: “Ek sou sê ek sukkel met verhoudings, kommunikasieprobleme en dit het tot baie frustrasie gelei. Dit sal help as mense ’n bietjie geduldiger is.”

Maar, het sy bygevoeg: “Asperger se steuring bepaal nie wie ek is nie. Dis ’n toestand waarmee ek moet leef en verwerk . . . Mense sal nou beter verstaan wie ek is en hoekom ek sekere goed doen.”