Haar skielike vertrek van Survivor: Maldives was dalk ‘n groot skok vir almal, maar die voormalige plep deelnemer Sindi Lukhele, sê sy was eintlik bly toe sy van die eiland afgeskop is.

Ná 14 dae van stry teen die elemente en haar mede-deelnemers was die 26-jarige geleentheidsbeplanner van Kensington, Johannesburg, baie bly om terug te keer na die beskawing.

Sy was een van die sterkste deelnemers in die Goma-stam, maar sy is gefnuik deur die slinkse spel van die celebs Roxy Burger en Vanessa Haywood.

Gisteraand het kykers gesien hoe Roxy vir Vanessa die versteekde immuniteitsbeeldjie gee en so keer dat sy uitgeskop word. Vanessa het toe 5 stemme teen haar gekry terwyl net Vanessa en Roxy teen Sindi gestem het. Maar omdat Vanessa immuun was, was Sindi die sesde deelnemers wat moes looop.

“Ek het dit glad nie verwag nie,” het Sindi vanoggend vir Huisgenoot.com gesê. “Maar ek dink alles gebeur met ‘n doel en ek is bly ek is toe daar weg. As ek op die jurie was, sou dit vir my te moeilik gewees het om te stem dat iemand anders R1 miljoen wen!”

“Mense besef nie ons was gestrand op ‘n regte eiland en dat ons regtig honger gely het nie. Die ding wat ek die meeste daar gemis het, is kos. Dit was die treurigste eilandjie ooit, met net een enkele kokospalm – ek weet nou nog nie hoe ons dit reggekry het nie!”

Sy spot dat sy eintlik aan Survivor deelgeneem het om gewig te verloor, maar dit het nie gewerk nie. Terwyl Jacques Terre’Blanche ‘n hele 8 kilogram se spiermassa afgeskud het, het Sindi se kilogramme geklou.

“Ek was 63 kilogram toe ek ingeskryf het en toe ek daar weg is, was ek net ‘n kilo of twee ligter,” lag sy. “Survivor is nie die gewigsverlies-antwoord waarop ek gehoop het nie!”

Haar eerste maaltyd nadat sy van die eiland af weg is, was by die Dubai Internasionale Lughawe, waar sy weggelê het aan McDonalds-burgers, roomys, sjokoladekoek en lekkergoed. “Almal koop daar Mac-grimering en Guess-sakke, want dis belastingvry,” sê sy. “Ek was net daar vir die kos.”

Sy is die vierde van vyf dogters, so Sindi is gewoond daaraan om met ander mee te ding, maar haar diepe wrewel in Vanessa was nogal vermaaklik.

“Ek kon dit nog uithou met Roxy, al het sy Vanessa oral gevolg. Maar Vanessa het almal geïrriteer. Ek is eintlik jammer dat ek uitgestem is juis toe dit haar beurt was om te gaan.”

Haar strategie van die begin af was om nie te prominent te wees nie en nie soos ‘n bedreiging te lyk nie. Sy sê dit het haar min gepla dat sy op kamera moes verskyn in ‘n bikini. “Wanneer jy veg vir jou lewe en oorlewing, het jy nie tyd om jou te bekommer hoe jy lyk nie,” sê sy.

Sy sal dit weer doen. “Ek is lankal ‘n Survivor-aanhanger en dis iets wat ek nog altyd wou doen. Ek is net bly ek het die kans gekry om op die eiland te wees en die spel te speel.”

Jacques, die Goma-lid wat in gisteraand se episode uit eie keuse van die eiland af weg is, is skynbaar nie lus om daaroor te praat nie. Hy was nie vandag beskikbaar vir ‘n onderhoud nie, glo omdat hy besig is met sy nuwe album en om sy troue met Charné Jade later vanjaar te beplan.

Jacques het gevra om die reeks te verlaat omdat ‘n velprobleem waaraan hy sy lewe lank ly, vitiligo, blykbaar op die eiland opgevlam het.

“Ek moet doen wat die beste is vir my loopbaan,” het hy gesê voor hy daar weg is. Nico was nie heeltemal oortuig nie. En ook nie sy mede-deelnemer MXO nie. “So nou is hy ‘n pop Idol, soosMichael Jackson . . . dit is ‘n velprobleem, hy gaan nie doodgaan nie!” het MXO gesê.