M-Net het aangekondig ’n nuwe plaaslike weergawe van die werklikheidsreeks Survivor is op pad en dit gaan boonop ’n interessante kinkel hê: Mark Fish en Corné Krige gaan die spanne vir Survivor South Africa: Champions lei.

Dis die eerste keer dat twee sportsterre vir die reeks as spanleiers gekies word. Anders as die ander deelnemers, wat onbekende Suid-Afrikaners gaan wees, sal die sokkerster Mark en Corné, ’n voormalige Springbokkaptein, nie uitgestem word by die gevreesde stamvergaderings nie. Die sterre ding mee om ’n aparte R500 000 vir hulself; dis nie deel van die tradisionele wengeld en Survivor-titel waarom die deelnemers meeding nie. Kykers sal die kans kry om te kies wie van Mark of Corné die prys moet wen.

“Dié byvoeging gaan beslis sorg vir talle ure se opwindende gesprekke,” sê Pierre Cloete, M-Net se direkteur van algemene vermaakkanale. “Mark en Corné is albei uiters mededingend en sterk, maar hul persoonlikhede verskil. Dit gaan interessant wees om te sien hoe die leiers planne beraam om hul spanne te laat wen en hoe hulle die verskeie uitdagings op die eiland hanteer.”

Suid-Afrikaners wat by Corné of Mark se spanne wil aansluit, moet M-Net, die M-Net-webtuiste en die media van begin Julie dophou vir nog inligting. Soos altyd moet deelnemers ouer as 18 wees, ’n geldige paspoort hê en vasbeslote wees om te bly staan in moeilike omstandighede.

[caption id="attachment_39542" align="aligncenter" width="297"]Foto: @CorneKrige6 op Twitter Foto: @CorneKrige6 op Twitter[/caption]

Mark hoop sy span sal “hul individuele eienskappe ten toon stel wat die span sal help vorder” en Corné soek spanlede met “veggees”.

[caption id="attachment_39543" align="aligncenter" width="306"]Foto: @markfish74 op Twitter Foto: @markfish74 op Twitter[/caption]

“Ek voel jammer vir Corné se stam,” sê Mark. “Om deur ’n rugbyspeler gelei te word? Foei tog!”

Survivor South Africa: Champions word teen die einde van die jaar op ’n geheime plek verfilm. Nico Panagio sal weer die aanbieder wees.

[caption id="attachment_39546" align="aligncenter" width="560"]Aanbieder Nico Panagio Aanbieder Nico Panagio[/caption]

– KIRSTIN BUICK