“Ek kan skaars wag om hul gesigsuitdrukking te sien wanneer hulle hul tweelingbabas vir die eerste keer sien.

“Ek het myself daarop voorberei om hulle af te staan. Dis mos nie my kinders nie,” vertel Sharon Wilson* (28), wat die afgelope drie weke op die naat van haar rug moet lê om te sorg die tweeling, wat sy as surrogaat vir ’n middeljarige paartjie dra, word nie te vroeg gebore nie.

[caption id="attachment_171342" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. Foto: Pexels Foto ter illustrasie. Foto: Pexels[/caption]

“Jy moet jouself geestelik voorberei dat jy nooit ’n band met hierdie kinders kan vorm nie, al voel jy die mannetjies hoe sterk binne-in jou skop,” vertel Sharon telefonies aan Huisgenoot uit ’n Kaapse privaat hospitaal. Sy is 28 weke swanger.

“Ek sien veral uit daarna om die pa se reaksie te aanskou wanneer hy die seuntjies sien. Hy word vir die eerste keer pa op 47. Sy vrou, naby aan 50, het ’n dogter.”

Sharon is ook reeds die ma van twee dogtertjies van vyf maande en drie jaar. “Hul pa ondersteun my ook, want hy weet hoe graag ek mense wil help.”

Sy, die paartjie en die dokters, maak nou seker sy bly rustig tot die babas kom, want op vyf maande het sy hulle amper verloor.

“My werk weet nie ek is ’n surrogaatma nie. Hulle dink dis myne. Wanneer ek teruggaan werk toe, gaan ek net sê hulle is doodgebore. Ek wil die egpaar vir wie ek die baba dra, se identiteit en privaatheid beskerm,” vertel sy.

Dit het alles begin met ’n artikel oor surrogaatma’s in Huisgenoot.

“Omtrent drie jaar gelede het ek dit gelees en gedink: ‘Wow! Dis cool. Dit sal amazing wees om ander te help.’ En ek hou van swanger wees: Jou naels, hare en vel lyk beter. En om die lewetjies binne-in jou te voel skop,” vertel sy.

Aan die einde van die artikel was ’n webadres waar sy haar kon laat registreer om surrogaat te wees. Sy het dadelik ’n paartjie van Kaapstad gekry wat haar graag as surrogaat wil hê.

Hulle het van haar profiel gehou. ’n Vrou wat bereid is om ’n bevrore eier en ingeplante sperm nege maande lank namens ’n paar te dra, is reeds ’n uitsonderlike mens.

Sy het ook die algemeenste vorm van surrogaatskap ondergaan wanneer ’n vrou deur middel van in vitro-bevrugting (IVB) swanger word.

Die embrio wat in die baarmoeder van die surrogaat ingeplant word, word in ’n laboratorium geskep met die eiers van die ma (of ’n skenker) en spermselle van die pa (of ’n skenker). Dit beteken die embrio en baba is glad nie geneties verwant aan die surrogaatma nie.

“Ek was aanvanklik baie opgewonde en deurmekaar,” vertel sy. Sy kon nie ophou dink aan waarin sy haar nou begewe nie. “Ek’t toe die ouers ontmoet een Sondag. Dinge het goed gegaan. Ons het van mekaar gehou en ek het ja gesê, ek sal hul baba dra.

“Maar ’n week voor die IVB besef ek, dis malligheid. Ek kan nie. En in elk geval het ek net vier maande voor als die lewe geskenk aan my eerste dogter. Ek moes hulle ongelukkig teleurstel,” vertel sy.

Twee jaar het verbygegaan en dieselfde paartjie het verlede jaar heeltemal onverwags met haar kontak gemaak. “Hulle het sedert ons ontmoeting ’n paar ander surrogaatma’s ontmoet, maar dit het nie uitgewerk nie. My baba is toe al groot, mos.

“Ek’t weer ja gesê. En ons het alles begin reël: doktersafsprake, sielkundiges wat ’n verslag moes skryf dat ek sielkundig in staat sal wees om van ’n baba afstand te doen . . .”

Ses maande later het hulle met die inplanting begin. “Dinge het nou ’n werklikheid geword . . ’n week later verwag ek ’n tweeling. Die ouers was baie bly, en ek ook vir hulle.

“Mooi vyf maande later het dinge nou begin moeilik word vir my. Waar ek werk as kassiere wil hulle nie hê ons moet sit nie. En ek het 12 uur in skofte gewerk, dag en nag.

“Lateraan was dit moeilik vir my om taxi toe te stap. Een oggend wat ek toe huis toe stap, begin ek bloei. Ek het gelukkig toe ’n doktersafspraak gehad waarheen ek op pad was. Ek’t amper elke Maandag ’n doktersafspraak gehad.”

Die toekomstige ouers het saamgegaan. Hulle betaal al haar mediese onkoste. Die dokter het haar toe ’n twee weke siekteverlof laat neem voor sy terug werk toe is.

Dit het vir haar liggaamlik al moeiliker geword. Toe sy weer by die dokter uitkom, was daar slegte nuus: Haar serviks was besig om oop te gaan; sy kan die babas verloor.

“Dis die mees aaklige nuus ooit. Die ouers was gebroke. En die dokter het toe finaal besluit ek moet ophou werk. “Dis ’n bietjie erg, want ek is die broodwinner in die huis met twee kinders van my eie.”

Met nog ’n doktersbesoek was die situasie met haar serviks onveranderd. “Ek was so b**** vir die stupid serviks dat ek later moed opgegee het op die babas se lewe . . .

“In die hospitaal het hulle voorspel die babas het net drie dae voor hulle gebore word. Ek was amper ses maande (swanger). Die ouers was gebroke. En later het hulle my beskuldig van als wat skeefgeloop het.

“Daai aand, toe lê ek net daar in daai hospitaalbed en bid-vra Jesus om die babas te red. Ek’t nog nooit so positief gevoel soos oor daai gebed nie.

“Die ouers het die oggend by my kom kuier en verskoning gevra. Ek het hulle toe al lankal vergewe. Ek het al voorheen vasgesit met die vrou. Sy’t my emosioneel geknak.

“Ek’t baie gehuil weens haar. Dis regtig hartseer aangesien ek so iets amazing vir haar doen. Dit het gevoel sy waardeer my nie. Haar man is baie gaaf . . .

“Die drie dae is toe verby en niks babas het gekom nie. Ek glo my gebed is verhoor. Ek is nou 28 weke en dinge lyk goed. My serviks is weer toe en die outjies groei mooi.”

Nou is dit net wag en bid tot sy en die ouers hul eerste skree hoor.

Wat jy moet weet:

  • Volgens die Surrogacy Advisory Group (surrogacy.co.za) moet paartjies in ag neem dat die sukses van ’n surrogaatswangerskap afhang van die gehalte en ouderdom van die eierselle, nes met ’n gewone swangerskap. Surrogaatswangerskap is dus nie altyd suksesvol nie.
  • Gesels met jou dokter oor of jy ’n eier- of spermskenker of surrogaat kort. Volgens surrogacy.co.za is eierskenkings meer geredelik beskikbaar. Daar is ’n tekort aan surrogaatma’s in Suid-Afrika, aangesien net ’n hand vol vroue bereid is om die emosionele, sielkundige en mediese verantwoordelikheid te dra.
  • Die eiers en sperm van een of albei van die voorgenome ouers moet gebruik word.
  • Neem in ag dat surrogaatskap ingewikkeld en duur is, en dat dit eers oorweeg moet word wanneer jou dokter meld dat jy glad nie self ’n baba kan dra nie.
  • Om as surrogaatma op te tree, moet jy aan verskeie mediese en wetlike kriteria voldoen. Jy moes byvoorbeeld minstens een swangerskap en suksesvolle geboorte gehad het en ’n kind van jou eie hê.
  • Die surrogaatma en ouers kan self besluit tot watter mate en hoeveel kontak hulle wil hê. Kies ’n surrogaatagentskap wat albei partye se behoeftes in ag sal neem.

Ekstra bronne: surrogacy.co.za, giftovlife.co.za