HY HET nog altyd vir sy ouers gesê hy gaan hulle eers aan die liefde in sy lewe voorstel wanneer hy die dag wéét dis die een met wie hy gaan trou.

En toe George Meiring verlede Oktober vir die eerste keer in sy lewe by ’n gimnasium instap en ’n blou-oog blondekop uit die hoek van sy oog gewaar, het hy dadelik geweet: Dié een gaan sy ouers ontmoet.

Toe die oulike blondekop vir die sanger glimlag, het trouklokkies sommer dadelik in sy gedagtes begin lui. En nee, dit was nie ’n vrou wat hom skielik laat dink het aan nesskop nie – dit was ’n man.

En dit was die oulikste, mooiste man wat George nog ooit gesien het.

“Ons het vir mekaar geglimlag toe ons by mekaar verbystap, en ek het my oefenklere in die kleedkamer gaan aantrek. Toe ek uitkom, het hy by ’n tafeltjie sit en wag. My hart het so geklop, ek het net verbygestap.

“Maar toe ek op die oefenfiets klim en sien hoe hy by die gimnasium uitstap, het ek skielik besef hy het eintlik vir my sit en wag. Ek het van die fiets afgespring en hom agternagesit.

Ek het my selfoon en beursie sommer by die fiets gelos, so haastig was ek om hom in te haal!” vertel die naaswenner  van 2006 se Supersterre-sangkompetisie.

“Ek het geweet ek sou dit vir die res van my lewe berou as ek hom nie ontmoet nie.”

George (35) kyk met oë vol waardering na Brendon Pollock (32), die danser en choreograaf met wie hy in Desember trou.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 5 Augustus 2010