Die dag toe sy op Britain's Got Talent se verhoog stap, het Susan Boyle se lewe vir altyd verander. Sedertdien het sy ervarings gehad waarvan sy voorheen net kon droom.

Nou kan die 54-jarige sangeres Suid-Afrika eindelik voeg by die lys van plekke wat sy besoek het sedert sy ’n wêreldsensasie geword het. Die Skot sal die internasionale gasskunstenaar wees by die Afrikaanse baanbrekersmusiekkonsert SuperSkouspel in die FNB-stadion dié naweek.

Channel24 het vinnig met Susan oor haar vertoning in Suid-Afrika gesels. 

Afgesien van die vertoning, het jy ander planne vir jou besoek aan Suid-Afrika?

Ek sal baie graag die geleentheid wil hê om soveel moontlik te sien wanneer ek in Suid-Afrika is. Dis my heel eerste besoek aan die land en ek sal graag ’n safari wil beleef, die plaaslike kookkuns beproef en Johannesburg besigtig.

Biltong, ’n plaaslike peuselhappie van droë vleis en speserye, is gewild in Suid-Afrika. Het jy dit al geëet of sal jy dit met jou besoek wil beproef?

Nee, ek het dit nog nie geproe nie, maar dit klink heerlik. Ek sal graag wil. Ek meen jy moet plaaslike kulture en kosse ervaar.

Volg jy enige rituele voor jy op die verhoog stap?

Sowat twee uur voor ek op die verhoog stap, word my hare en grimering gedoen en warm ek my stem op. Dit is my tyd om my op my optrede in te stel en te sorg my stem is voldoende opgewarm en gereed.

Wat is die een ding wat jy altyd met jou op ’n toer saamneem?

Teesakkies! Ek hou van ’n goeie koppie Britse tee; daarom neem ek my eie teesakkies saam.

Watter lied geniet jy die meeste om voor so ’n groot gehoor uit te voer?

Ek voer al my liedjies graag voor ’n gehoor uit. Die opwinding van optree en die gehoor gelukkig maak, dis wat ek graag doen.

Wat is jou volgende groot projek ná jou reis na Suid-Afrika?

Wel, daar word nog albums en ook nog toere beplan. Hopelik kan ek eendag my toer na Suid-Afrika bring.

Bron: Channel24

Terugflitse van Susan Boyle se stem wat koers gekies het na harte wêreldwyd