Magtie, hoekom wil hulle híér afhaak? Dis wat deur jou gedagtes gaan wanneer jy verby Boksburg se ou mynhope en ’n informele nedersetting ry op pad na George Meiring (35) en Brendon Pollock (32) se troue.

“Dis presies wat ek gedink het toe George my die eerste keer hierheen gebring het, maar toe ek die plek eers sien, toe maak alles sin,” sê Brendon en kyk bewonderend na die Supersterre-sanger, sy hartedief.

Dan sien jy dit opeens self: Die eenvoud van die Arum Symphony is volmaak vir die singende plaasseun van die Vrystaat en die liefde van sy lewe. Dis juis waarom hy op die ouwêreldse koffiekroeg verlief geraak het.

En nou is dit vyfuur en die twee tree aan voor die huweliksbevestiger, landdros Alice Swanepoel, terwyl die reën so hard neerdruis dat die gaste hul ore moet spits om te hoor. Onder die 80 mense is bekendes in die musiekwêreld soos BroersNádine en Karen Ferreira.

Alice roep die twee mans se ma’s vorentoe.

“Ma’s hou die familie bymekaar, en vandag kry julle elkeen ’n ma by,” sê sy. Dan lees sy vir hulle ’n gedig, To My Other Mother deur Judy Nilson – “You are the other mother I received, the day I wed your son’’ – en skielik moet Mary Meiring en Cynthia Pollock die trane wegvee.

Lees meer in Huisgenoot, 30 Desember 2010.