Ons leef in ’n gejaagde wêreld met baie stres en kinders het dikwels twee ouers wat voltyds werk. Kosinkopies het ’n naweekuitstappie na die supermark geword om voorraad vir die volgende week aan te skaf.

Maar moenie moedeloos raak nie, want selfs van werkende ma’s verg dit nie soveel moeite om op pad huis toe hoenderborsies en vars groente vir ’n roerbraai of ’n halfdosyn eiers, vars kruie en sampioene vir ’n omelet te koop nie. Hier is ’n lys superkossoorte, die voedsame boublokke van ’n goeie dieet wat noodsaaklik vir kinders se gesonde ontwikkeling is.

SUPERVRUGTE

Hierdie vrugte is propvol voedingstowwe en verg geen bereiding nie; daarom is dit kos wat ons altyd byderhand kan hou.

Druiwe is ook ’n goeie bron van vitamien C en goed vir groeiende kinders, veral wanneer hulle moeg of terneergedruk is.

Lemoene bevat baie vitamien C en voorsien proteïen, kalsium en yster. Hulle is ryk aan hoë kalium en dus ’n nuttige teenvoeter vir die oormaat natrium in skyfies en al die ander southappies waarvan kinders so baie hou.

Appels se skil bevat flavonoïed wat sterk antioksidant-eienskappe het; appelsap beveg virusse. Dié vrug is ook ryk aan wateroplosbare vesel en pektien, wat die liggaam cholesterol en giftige swaarmetale soos lood en kwik help uitskei.

SUPERGROENTE

Groen blaargoente is die hoeksteen van ’n gesonde dieet. Dit bestry kanker en hartsiekte en help jou langer lewe. Maar dit alleen sal jou kinders oorreed om daaraan te smul nie; daarom moet jy groente lekker genoeg berei sodat dit byval sal vind by uitsoekerige eters.

Trek voordeel uit kinders se liefde vir vingerkos en hul groot eetlus net voor aandete deur aptytwekkers voor te sit terwyl jy die maaltyd berei – “groen boompies” van rou of effens gestoomde broccoli vermom met ’n smaaklike doopsous en wortelsokkies om aan te knibbel terwyl julle wag. Party kinders hou selfs van gestoomde aspersies wat in gesmelte botter gedoop is.

Aartappels is vol energie en bevat baie voedingstowwe, onder meer vitamien C. Skyfies elke dag is nie raadsaam nie, maar jy kan gekookte of gebakte aartappels heerlik maak as jy dit saam met sousboontjies, slaai, maaskaas, koue hoender of tuna voorsit.

Die ui-familie – uie, knoffel, preie en grasuie – lyk dalk of dit nie in kinders se smak sal val nie, maar dit beskerm die longe, hart en verteringstelsel, is kragtige kankerbestryders en kan cholesterolvlakke verlaag. Maak of julle uiteet deur diepgebraaide uieringe en tamatiedoopsous, knoffelbrood of pizzas voor te sit.

Tamaties bevat volop antioksidante asook vitamiene C en E. Kersietamaties lyk aantrekliker; voeg hulle by jou peuselhappies voor maaltye of pak ’n paar in jou kind se kosblik. Vir ’n vinnige somerpasta, sny ryp kersietamaties in kwarte en roer dit saam met heelwat olyfolie, ’n bietjie geurmiddels en ’n hand vol geskeurde basilieblare by gaar pasta in.

SUPERGRANE

Volgrane is ’n noodsaaklike deel van elke kind se dieet. Dit verskaf proteïen vir liggaamsbou, koolhidrate vir energie, vesel vir ’n gesonde hart en verteringstelsel en noodsaaklike vette, vitamiene en minerale.

Semolina word van die harde buitedeel van koring vervaardig en in koeskoes en pasta gebruik. Dit voorsien kinders van hope energie wat stadig vrygestel word, en ’n mens kan dit in ’n japtrap gaarmaak. Voeg’n eenvoudige sous en ’n slaai by, en dis ’n voedsame maaltyd.

Gerolde hawer en hawermout bevat baie proteïen en minerale, en genoeg B-vitamiene om ’n uitstekende kuur vir senuwees te wees, net die kos vir gestresde tieners. Hawer het ook ’n merkwaardig stabiliserende uitwerking op bloedsuikervlakke. ’n Bak hawermoutpap vir ontbyt gee kinders volop energie vir die skool. Jy kan ook vars vis in hawermout rol voor jy dit in ’n bietjie olyfolie braai.

Suikermielies, vars of bevrore, bied meer proteïen as aartappels en volop vesel, asook voordelige vitamiene en minerale. Die meeste kinders hou van mielies aan die stronk met botter, terwyl tuisgemaakte springmielies sonder te veel sout ’n gesonde peuselhappie is.

SUPERPROTEÏENE

Voor grane en peule grootskaals verbou is, was vleis, vis en hoender ons voorsate se betroubaarste bronne van proteïen. In vandag se gevarieerde dieet bied vleis nog altyd waardevolle proteïen en ander belangrike voedingstowwe vir groeiende kinders.

Die burgers van kitskoswinkels is gewoonlik minder gesond, maar burgers van maer maalvleis wat jy tuis berei, is wonderlik vir die jongspan.

Pluimvee is ook ’n wonderlike bron van proteïen en B-vitamiene – ’n ware hupstoot tydens intense aktiwiteit en uitstekend nadat jou kind siek was. Enige pluimvee kan gebruik word in sop. Die tradisionele hoendersop wat geliefd is by Joodse ma’s, se reputasie as “Joodse penisillien” is heeltemal geregverdig. Navorsers het ’n spesiale swawelverbinding in hoendersop gekry wat regtig beskerming bied teen keel- en borsaandoenings bied.

Vis is ook ’n superkos met volop proteïen en min vet. Dit is propvol B-vitamiene en kosbare minerale uit die see. ’n Mens kan dit vinnig berei en dit verteer maklik, en as kinders van visvingers hou, kan jy hulle maklik sover kry om ’n bietjie avontuurlustiger te wees en ander vissoorte op die proef te stel. (As hulle aandring op visvingers, berei dit in olyfolie.)

SUPER SUIWELKOSSE

Suiwelprodukte is ’n belangrike bron van kalsium, wat bene bou, iets wat noodsaaklik is vir kinders se gesonde groei. Gelukkig hou die meeste kinders van kaas en melk. Maaskaas, kaas op roosterbrood, pizza met volop kaas daarop en ’n glas melk, pleks van sap, met ete sal hul inname verhoog.

Eiers

Dis ’n wonderlike bron van hoëgehalte-proteïen en ’n belangrike bron van lesitien, wat hartsiekte en galstene help voorkom en die spoedige omskakeling van liggaamsvet in energie bevorder. Dit is ook ’n belangrike breinkos wat ’n goeie geheue en konsentrasie aanhelp. Maak Franse roosterbrood deur dikkerige brood in driehoeke te sny en dit dan in eier te doop voor jy dit in olyfolie braai (sit voor saam met heuning en gerasperde kaas); of maak roereier gegeur met gerasperde kaas.

BRON: Superfoods for Children deur Michael van Straten en Barbara Griggs (uitgegee deur Dorling Kindersley en versprei deur Penguin).