Dis moeilik om te glo sy is net 23 – was daar dan ooit ’n tyd toe Rihanna nie op die musiektoneel was nie?

Wanneer jy die radio aanskakel, kan jy maar weet, nou-nou sing Rihanna. Op TV sien jy haar in min kleertjies en amper elke dag met ander hare. Tel ’n tydskrif op en ja, daar is Rihanna – besig om ’n prys te kry, êrens op nog ’n rooi tapyt of in ’n onderhoud.

Verlede maand alleen is die skoonheid van Barbados deur die ikoniese fotograaf Annie Leibowitz afgeneem vir die voorblad van die modebybel Vogue én het sy op die voorblad van die invloedryke musiektyd­skrif Rolling Stone gepronk.

Almal van Cheryl Cole tot Michelle Obama is versot op haar. Lady Gaga dink sy is die toppunt van koel – dis groot lof van die koningin van skokmodes – en Katy Perry beskryf haar as die ‘‘sexyste meisie in die wêreld’’.

Ontwerpers val oor hul voete om haar in die voorste ry by hul loopplankvertonings te kry en almal, van kletsrymers tot rolprentmakers en skoonheidshuise, wil saam met haar werk.

Sy is amptelik die grootste vroulike sanger ter wêreld – groter as Lady Gaga en Beyoncé saam. Maar wat maak haar so spesiaal?

‘‘Dis die tikkie gevaar,’’ sê iemand in die binnekring. ‘‘Sy het die neonrooi hare en die skokkend sexy verhoogoptredes. Op die verhoog is daar niemand wat by haar kan kers vashou nie.

“Ja, sy is talentvol, maar sy is ook gewaag. Sy is vuurwarm, superkoel én supersexy.’’

Maar tog was daar ’n tyd nie lank gelede nie toe ’n heel ander beeld van Rihanna in mense se geheue geëts was – die beeld van haar erg geskende gesig was in 2009 oral in die media nadat haar voormalige kêrel Chris Brown haar ná die Grammy-aand aangerand het.

Vir ander vroue sou dit dalk ’n nekslag gewees het, maar Rihanna het ooglopend net sterker anderkant uitgekom.

Nie net mans is dol oor haar nie, maar ook vroue – sy is ’n vroulike ster wat selfvertroue verpersoonlik.

‘‘Sy het terug-baklei,’’ sê ’n bron, ‘‘en haarself in die grootste ster ter wêreld omskep.’’

Sy was ‘‘versigtig’’ ná die aanranding, vertel sy. Chris het haar gewurg, herhaaldelik geslaan en toe uit sy motor gegooi.

‘‘Ek wou nie hê mense moet sien ek huil nie. Dit was ’n tyd waarin ek baie kwesbaar was en ek het geweier om toe te laat dat dit die beeld is wat mense van my het. Ek wou hê mense moet my sien en dink ek is oukei, ek is dapper,’’ sê sy vir die musiektydskrif Rolling Stone.

Sy was al saam met verskeie mans, soos die akteur Colin Farrell, maar die enigste met wie sy sedert die aanranding vas uitgegaan het, was die bofbalspeler Matt Kemp – sowaar ’n man wat ook ’n reputasie as vroue-aanrander het.

Maar wat is dit omtrent sulke mans wat haar dan lok? Lees meer hieroor in die Huisgenoot van 14 April 2011.