Sy het pas op haar FaceBook-profiel onthul dat sy en die nuusleser LiMari Louw op 15 Augustus 2012 in die eNuus-ateljee ontmoet het en dat dit liefde met die eerste oogopslag was.

Sy vertel in die inskrywing dat sy ’n baie moeilike jaar agter die rug het, nadat sy nie daarin kon slaag om ’n Olimpiese medalje in Londen te verower nie. Sy het ’n vierde plek behaal. Alles het verander toe sy LiMari ontmoet en nou is sy op haar gelukkigste. Sy beskryf haar as die liefde van haar lewe.

“As dit nie vir my vierde plek was nie, sou ons mekaar nooit ontmoet het nie.

“Ons het geen twyfel dat God ons presies op daardie dag vir mekaar gestuur het nie en soos hulle sê, liefde kom soos ’n dief in die nag en die hart laat nie aan hom voorskryf nie.”

Sy skryf ook dat sy nog lank nie klaar baklei is nie. “. . . daar is hopeloos te veel passie en dryf in my are om ooit op te gee en ek sal nie my spiese ophang voor ek bereik het wat ek weet ek kan nie. Ek gaan nou lekker rus, al die sleg is verby, ek het my liefde aan almal bekendgemaak en pak 2014 met nuwe krag.”

Bron: Die Burger