Sunette het sowat ’n week gelede in ’n bekgeveg met Fikile Mbalula betrokke geraak ná sy hom gevra het wanneer sy haar gelde sou ontvang.

"Ek het regtig nooit vir meer gevra as wat aan my belowe is nie," het die atleet Saterdag getweet.

Verlede week het Sunette ’n skermgreep gedeel van ’n SMS-gesprek tussen haar en Fikile. In die gesprek vra sy vir Fikile wanneer sy haar prysgeld gaan kry.

Hy antwoord deur om te sê: “Jy’t dan gesê jy soek dit nie?” Maar die atleet het haar nie van stryk laat bring nie en aangehou om druk op die minister te plaas om die gelde "wat aan die medaljewenners belowe is", te betaal. Sunette se bonus kom sowat 11 weke nadat Fikile dit aanvanklik belowe het. As silwermedaljewenner is Sunette geregtig op ’n bonus van R70 000 terwyl gouemedaljewenners en bronsmedaljewenners onderskeidelik R100 000 en R50 000 belowe is. Die spiesgooier het ook haar ondersteuners bedank vir hul volgehoue bystand. En sy het die Springbokke sterkte toegewens in hul stryd teen Engeland vanmiddag.

Op sy beurt het Fikile Saterdag op Twitter gesê Sunette moes bloot geduldig gewees het en dat die betalingsproses nie om haar onthalwe bespoedig sou word nie.
Die minister van sport het ook geskryf "arrogansie neem talle vorme aan" en gesinspeel daarop dat Sunette spesiale behandeling wou ontvang.