Die 32-jarige spiesgooier Sunette Viljoen het die spoke van die Londen Spele in 2012 verjaag waar sy net-net Olimpiese glorie misgeloop het en met ’n vierde plek tevrede moes wees.
Donderdag (Vrydag SA tyd) was daar egter g’n keer aan haar nie: Rio smaak na soete silwer vir Sunette. Sunette het in haar eerste gooi 64,92m gegooi en het hiermee die voortou geneem. Sara Kolak van Kroasië het Sunette verbygesteek nadat sy ’n indrukwekkende 66,18m gegooi het. Die brons medalje behoort aan Barbora Spotakova van die Tjeggiese Republiek wat ’n afstand van 64.80m gehaal het. En dit is nie net Sunette wat verheug is oor haar medalje nie – haar omstrede spanmaat, Caster Semenya, kon ook haar trots op die mou dra met ’n gloeiende gelukwensing op Twitter.

NOG REDE OM TE GLIMLAG

Span Suid-Afrika se medaljeversameling raak al groter. Henri Schoeman het Donderdag die brons medalje gewen in driekamp. Dié rateltaai atleet het die item in 1:45:43 afgehandel.

Groot Brittanje het die podium egter oorheers en albei die goue en silwer medaljes gewen. Alistair Brownlee het eerste op die podium gestaan en die wedloop in 1:45:01 klaargemaak. Alistair se spanmaat en broer, Jonny Brownlee, was kort op sy hakke en het die item in 1:45:07 klaargemaak.

Die vraag is, het jy die moed vir driekamp?

Want dis uithou en aanhou en fietstrap voor jy wen!

Hoeveel medaljes het SA al in Rio verower?

Span Suid-Afrika spog tot dusver met ses silwer, twee brons en een goue medaljes – en dit alles vir swem, atletiek en roei.