In ’n mediese eerste het ’n vrou die lewe aan ’n gesonde seun geskenk nadat sy ’n baarmoeder van ’n vriendin in haar 60’s ontvang het. Die baba is in September gebore en is Vincent genoem na die Latynse woord vir verower. Hy is agt weke vroeg gebore en het 1,8 kg geweeg. Vincent se ma, wat anoniem bly, is sonder ’n uterus gebore. Sy het en haar man het vrugbaarheidsbehandeling wat 11 embrio’s gelewer het. Dit is toe gevries.

Die vroue is almal deel van ’n groep van nege vroue wat vroeër vanjaar tydens ’n proeflopie by die Universiteit van Gothenburg baarmoeder-oorplantings ondergaan het. Hul baarmoeder sal verwyder word tensy hulle besluit om weer te probeer swanger raak. Uit die groep was daar vier swangerskappe, van wie drie op geboortes uitgeloop het. Daar word verstaan ’n oorgeplante baarmoeder kan nie die enorme druk hanteer wat met die bevalling gepaard gaan nie.

Die ander twee babas, ook seuns, is in November gebore. Die ma’s is onderskeidelik 29 en 34. Albei se ma het die baarmoeder geskenk. Dit beteken die twee vroue en hul seuns het in dieselfde baarmoeder ontwikkel.

Die eerste vrou wat ’n oorplanting ondergaan het, het die orgaan van ’n familievriendin wat sewe jaar tevore menopouse ondergaan het. ’n Jaar ná die oorplanting en nadat sy medikasie geneem het om verwerping te voorkom, is die bevrore embrio’s voorberei en ingeplant.

Dokters by die Universiteit van Gothenburg het die oorplanting uitgevoer.

“Die eerste keer dat ek aan my baba geraak het, het ek soos ’n ma gevoel; ek was oorstelp dat ons dit eindelik gedoen het,” het sy gesê.

“Ek was nog altyd bitter ongelukkig omdat ek geglo het ek nooit ’n ma sal wees nie – en nou het die onmoontlike ’n werklikheid geword.”

Klein Vincent vorder glo goed. “Oor die jare het dit nogal moeilik geword, maar nou het ons die ongelooflikste baba. Hy is presies soos enige ander kind, maar ons het ’n interessante storie om te vertel,” het Vincent se pa in ’n anonieme onderhoud met die nuusagentskap AP gesê.

“Mense wat gedink het hulle sal nooit kinders kan hê nie, het nou hoop,” het Liza Johannesson, een van die span chirurge, gesê.

Die ander twee oorplantings is in dieselfde hospitaal in Swede uitgevoer.

“Dit is ’n absoluut ongelooflike geskenk. Dit is dalk die beste ding wat jy vir jou dogter kan doen,” het Hendrik Hagberg, ’n dosent in fetale medisyne by Kings College in Londen, gesê. Hy was teenwoordig by die bevallings. “Die ma’s het getwyfel of alles goed sou verloop. ’n Mens aanvaar niks as vanselfsprekend nie,” het hy gesê.

Die eerste baba wat met in-vitro-bevrugting verwek is, is in 1987 gebore.

- Saamgestel deur Megan Bursey

BRONNE: BBC.COM, THE LANCET.COM, INDEPENDENT.CO.UK