Wat hou jou dan so wakker as jy nie stres het oor werk of persoonlike probleme nie? Volgens nuwe navorsing kan lugbesoedeling ’n groot bydrae lewer tot jou slapelose nagte.

Oor ’n tydperk van vyf jaar het kundiges in Amerika ’n studie uitgevoer waar hulle die slaappatroon van 1 863 deelnemers gemonitor het.

“Jou neus, sinus en die agterkant van jou keel kan alles deur besoedeling geïrriteer word en sodoende slaapsteurings en asemhalingsprobleme veroorsaak,” sê dr. Martha Billings, hoofskrywer en assistentprofessor aan die Universiteit van Washington. Sy wys ook op vroeëre navorsing wat toon dat lugbesoedeling verband hou met hartgesondheid, asemhaling en longfunksie.

“Ons het gedink lugbesoedeling veroorsaak waarskynlik irritasie van die boonste lugweg, swelling en verstopping in die neus. Dit kan ook die sentrale senuweestelsel en die areas in die brein aantas wat asemhaling en slaap beheer.”

Billings sê deur die verbetering van luggehalte kan slaappatrone en ’n mens se algemene gesondheid verbeter.

– Cover Media