Maar in jou skemerjare kan dit nogals 'n taai uitdaging wees. Veel erger as jy nie so tegno- en internet-vaardig is soos vandag se jongklomp nie.

Wat nog te sê van aansluit by 'n aanlynontmoetingsportaal! Wel, Oom Fasie, gespeel deur die veteraanakteur Johan Botha, het die uitdaging volstoom en met albei hande aangegryp.

[post-slider]

Maar, Oom Fasie se eerste uitdaging was natuurlik om 'n geskikte foto vir sy aanlynprofiel te neem... en sy eerste pogings was lagwekkend om die minste te sê!

Loer gerus hier na van Oom Fasie se beste selfie-wenke:

  • Die woord selfie sou in my dag bekendgestaan het as die "lekker ekke" - met ander woorde dis die beste foto van jouself. So, lyk mooi en hê baie selfvertroue!
  • Moenie jou gesig met 'n spul filters bederf nie, want die mense moet jou steeds op straat kan herken!
  • As jy van die foto hou, is dit 'n mooi foto. Basta met die fotopolisie...
  • Onthou daar's dalk 'n kameraflits. Moenie dink dis daardie berugte wit lig waarvoor jy al so lank wag nie...
  • Oefen jou gesigsuitdrukking voor die spieël en onthou: hou daai tong binnensmonds!
  • Beligting is belangrik: in die regte beligting kan 'n plooi maklik na niks lyk nie, maar die kombuis se skel witlig kan jou dalk net 20 jaar ouer laat lyk!
  • 'n Selfneemstokkie is slegs vir vakansiefoto's. Wanneer jy saam met 'n klomp vrinne is, kan jy dit maar ouskool hou en die langarm gebruik. Onthou julle nog die langarm? Ken-jy-tant-mossie-se-sakkie-sakkie-sakkie-boeredans...

Suidooster word op Maandae, Dinsdae en Woensdae om 18:00 op kykNET en kykNET & kie. uitgesaai.