Hoewel die staatsbegrafnis en gedenkdienste in Pretoria sal geskied, is die finale reëlings hieroor nog nie bekend nie. Dit sal binnekort op ’n amptelike regeringswebtuiste aan die publiek oorgedra word.

Die Stad Kaapstad het inwoners aangemoedig om hul medelye met die staatsman se afsterwe by die Burgersentrum en die Kaapse stadsaal te betoon. ’n Interkerklike seremonie word vanmiddag om vyfuur op die Parade gehou.

Inwoners kan hul boodskap aan Madiba in troosboeke in die Burgersentrum of die stadsaal skryf.

Teen vanmiddag het verskeie Kapenaars en besoekers al in die Burgersentrum huldeblyke aan die vader van die Suid-Afrikaanse demokrasie neergepen.

“Rus in vrede, tata. Dankie dat jy my geïnspireer het om enigiets te wees wat ek kan! Jy het my geleer hoe om vorentoe te beweeg en die wêreld te verander. Dankie, Madiba!” het Shauna Williams geskryf.

In sy boodskap skryf Ashley Arendse: “Totsiens tata, jou nalatenskap sal in die land voortleef. Jy het mense wêreldwyd geraak. Ons rou en ons het jou nooit eens ontmoet nie . . . Dit sê als; ons is lief vir jou.”

In Bloemfontein is inwoners aangesê om na die Madiba-standbeeld op Naval Hill te gaan om aan hom eer te betoon, terwyl daar teen vanmiddag steeds ’n groot skare mense buite Madiba se huis in Houghton was.

Skares het ook saamgedrom by die huis in Soweto waarin hy destyds gewoon het. In Pretoria het mense na die Uniegebou gestroom om te treur; dit is ook hier waar sy amptelike begrafnis gehou sal word.

Almari Wessels