Albert Buitenhuis (50) is ’n Suid-Afrikaanse sjef wat al byna ses jaar in Nieu-Seeland woon en werk saam met sy vrou, Marthie (47).

Immigrasie Nieu-Seeland (INS) het egter in April sy werkspermit-aansoek afgekeur deur te sê sy gesondheid is nie op standaard nie. Dit het egter gelyk of INS veral ongelukkig was met Albert se gewig. Albert weeg tans 126 kg, maar het 160 kg geweeg toe hy in 2007 in die land toegelaat is. Die saak het wêreldwyd aandag gekry.

Baie mense het gevoel INS moes nooit jaar ná jaar Albert en Marthie se visumaansoek goedgekeur het nie as sy gewig ’n probleem was. In ’n onderhoud met Huisgenoot verlede maand het Albert gesê hy verstaan dat lande hul belastingbetalers teen hoë gesondheidsuitgawes moet beskerm. “Maar ek sou baie graag vroeër wou geweet het as hulle my nie hier wou hê nie.”

Die paartjie het egter die proses gevolg om teen INS se besluit te appelleer en ná ‘n ministeriële proses is hul aansoek goedgekeur. Albert het kort ná hy en Marthie die uitslag van hul aansoek op hul Facebook-blad aangekondig het, gesukkel om sy gevoelens aan ons te verduidelik: “Verlig, opgewonde, dankbaar, doodbang. ’n Mens kan nie vir iemand beskryf hoeveel emosies gelyk deur jou kop kan gaan nie.”

Omdat hulle nie meer kon werk nie, was Albert en Marthie byna vyf maande sonder ’n inkomste. Hulle moes baie van hul besittings verkoop om vir die aansoek te betaal en moes ook uit hul huurhuis trek. “Ek weet net nie mooi waar om al die stukke te begin optel nie; hulle lê wraggies die hele wêreld vol,” het Albert Vrydag gesê.

- Suzaan Hauman

Albert en Marthie 2009