Suid-Afrikaners het nog al die jare genoeg gehad om oor te kla, van misdaad tot verkeer tot inflasie.

En toe kom slimfone met hul nuwerwetse apps vir sosiale media, ingeboude GPS-toestelle en boodskapstelsels soos Whatsapp en kry ons nog iets om oor te kla - peperduur data! “Een van die mees algemene rekeningskokke wat mense deesdae kan tref, is wanneer hulle onbewustelik baie data gebruik. Dis eintlik baie moeilik om datagebruik op ’n slimfoon te beheer,” sê die kommunikasietegnologieontleder Arthur Goldstuck aan Huisgenoot.

Die hutsmerk #DataMustFall het Donderdag Twitter aan die gons gehad nadat die radio-aanbieder Tbo Touch gesê het datakoste in Suid-Afrika "is 'n bedrogspul".

Hy het plaaslike selfoondiensverskaffers 30 dae gegee om met 'n oplossing vorendag te kom en gesê selfoongebruikers moet die verskaffers wat moeite doen om die probleem van duur data op te los ondersteun.

"Ons sal die netwerk volg wat wys hulle gee om oor hul klante." Tbo se boodskap het duidelik aanklank gevind by Twitter-gebruikers en sy hutsmerk het oral in die land posgevat. Afgesien van die woede oor hoë data kostes, was daar gelukkig ook 'n paar memes wat gefrustreerde selfoongebruikers laat giggel het.

Selfs al beperk jy jou datagebruik, is daar “skuiwergate en gapings”, sê Arthur. Slimfone verlaat die fabriek met die verstekverstellings om voortdurend ’n geskikte verbinding vir datafunksies te soek. Dié gesoekery stoot dikwels jou datakoste op. Boonop word slimfone met 3D- en 4D-tegnologie hoofsaaklik vir ontwikkelde lande waar data goedkoop is en daar gratis Wi-Fi in baie areas is geskep, sê Mike Wronski van die webontwikkelingsfirma Digital Flow.

 

Dit is nog nie duidelik of diensverskaffers op Tbo en ander gebruikers se eise gaan reageer nie, maar intussen is daar wel maniere waarop jy jou datagebruik kan verlaag.

  • Arthur se raad is om jou foon te verstel sodat apps nie outomaties hulself bywerk elke keer wat nuwer weergawes beskikbaar is nie.
  • Jy kan ook jou sosiale media-apps sowel as jou Whatsapp verstel sodat video's en foto's nie outomaties laai nie, maar eers wanneer jy daarop kliek en kies om dit af te laai, sê hy. Onthou ook om jou selfoon se verstellingsfunksie (settings) dop te hou en daar te loer watter apps op jou selfoon gebruik die meeste data.
  • Kyk ook uit vir gratis, openbare Wi-Fi en vermy dit om goed af te laai wat hope data gebruik wanneer jy nie binne dié areas is nie, sê Mike.
  • Arhtur waarsku dat video's die meeste data neem - veral hoë-gehalte video's. Verstel jou apps sodat dit 'n laer gehalte weergawe van die foto of video aflaai as die hoë gehalte, duurder een. Ook Instagram, GPS-toepassings soos Google Maps en aanlynspeletjies is sondebokke, sê hy. Gelukkig, sê Mike, is Whatsapp een van die veel ligter datagebruikers.