Die kans lyk al hoe beter dat Suid-Afrikaners eersdaags wettige dagga sal mag besit en gebruik, mits dit om gesondheidsredes is.

Dit sal beteken pasiënte wat met chroniese pyn sukkel, sal wettig toegang tot dié dwelm kry.

“Dit is ’n oorwinning vir elke Suid-Afrikaner wat onnodig ly weens MIV/vigs, of aan erge pyn, spierspasmas, naarheid of ander toestande wat met kanker verband hou, sowel as vir mense wat met epileptiese aanvalle sukkel nadat ander behandelings misluk of kwaai teenreaksies tot gevolg gehad het,” het die Inkatha-vryheidsparty se Narend Singh in ’n verklaring gesê.

Wyle dr. Mario Oriani-Ambrosini, ’n lid van die party wat in 2014 gesterf het nadat hy ’n lang, pynlike kankerstryd verloor het, het in 2014 ’n wetsontwerp voorgestel en gevra dat die medisinale gebruik van dagga gewettig word.

“Waarom is dit onwettig?” het hy kort voor sy dood in ’n hartroerende toespraak in die parlement gevra. “Daar is nie ’n enkele genoteerde geval waar ’n mens weens dagga gesterf het nie. Hoeveel mense het nie al gesterf weens drank en tabak nie?

“Hierdie medisyne help. Ek sou nie vandag hier kon praat as dit nie vir dagga-ekstrak was nie. Ek neem dit in olievorm. Dit hoef nie gerook te word nie.”