Griep is ’n aansteeklike asemhalingsiekte wat ligte tot ernstige ongesteldheid kan veroorsaak.

Dit kan ook chroniese gesondheidsprobleme vererger of lei tot longontsteking, wat mense se lewe kan eis. Volgens Netcare is dit belangrik dat Suid-Afrikaners hierdie winter, wat waarskynlik kouer as gewoonlik gaan wees, teen griep ingeënt word. Die gesondheidsorgmaatskappy sê byna 30 kinders is in die VSA dood nadat die Noordelike Halfrond een van die ergste griep-uitbrake in die afgelope paar jaar beleef het. Netcare sê die griepinspuiting wat aan hulle beskikbaar gestel is, verskaf nie voldoende beskerming teen twee nuwe virussoorte nie, maar ’n nuwe entstof, wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is, word vervaardig om die veranderings in twee van die drie soorte te pas.

Ná ’n vertraging met vanjaar se griepinspuitings, word Suid-Afrikaners nou aangemoedig om ingeënt te word omdat hierdie winter se griepsoorte lyk of dit kwaadaardig is

Volgens dr. Annamarie Richter, mediese direkteur by Netcare se afdeling vir primêre sorg, is die griepinspuiting gewoonlik vroeg Maart in Suid-Afrika beskikbaar, maar aflewering is vanjaar vertraag as gevolg van die entstof wat moes verander word om beter te pas by die griepsoorte wat tans die ronde doen.

Sy verduidelik griepinspuitings word elke jaar verander om te voldoen aan die aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Volgens die Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming het die inspuitings beskikbaar in die Noordelike Halfrond se griepseisoen in 2014/’15 ongelukkig gewys dat dit net 23 persent doeltreffend is in die Verenigde State.

Dr. Richter beveel aan dat Suid-Afrikaners so gou moontlik ingeënt word. Sy sê dit duur sowat twee weke ná inenting voor beskermende teenliggaampies ontwikkel.

Ontmaskering van griepmites

Dr. Pete Vincent van Netcare-reisklinieke en Medicross se sentrum vir gesins- en tandheelkunde in Tokai, sê dat daar ook ’n paar wanopvattings oor griepinspuitings is.

“Dit is onmoontlik om griep te kry van ’n griepinspuiting omdat dit niks van nie lewendige virus bevat nie. Daar kan dalk ’n paar geringe newe-effekte soos ’n ligte hoofpyn, ’n bietjie koors of swelling en pyn by die inspuitplek wees.

“’n Griepinspuiting is steeds die doeltreffendste manier om jou en jou geliefdes te beskerm teen griep en sy komplikasies.”

Dr. Vincent lig drie voordele van die griepinspuiting uit:

  1. Die inenting beskerm jou nie net daarteen om griep te kry nie; dit beskerm ook almal om jou wat kwesbaar is, soos bejaardes, kinders, swanger vroue en mense met sekere chroniese siektes soos diabetes, asma, long- en hartsiektes.
  2. Hoewel griepinspuitings nie heeltemal voorkom dat jy die virus kry nie, maak dit wel die siekte baie ligter ingeval jy siek word.
  3. Die risiko van hospitalisering en dood van hierdie virus is aansienlik verminder met griepinspuitings.

Die verskil tussen griep en ’n verkoue

Die belangrikste verskil tussen verkoues en griep is die baie hoë temperature wat ’n mens kry met die simptome wat vereenselwig word met griep, en sy sê ook dat mense gewoonlik griep baie skielik kry. Simptome sluit in:

  • Koors
  • Hoofpyne
  • Hoes
  • Lopende of verstopte neus
  • Lyfseer
  • Moegheid

Health24