Jay Pheonix het breed geglimlag toe hy 150 keer binne 24 uur in Australië gereksprong het en daarmee die Suid-Afrikaner Kevin Scott Huntly se rekord van 105 spronge laat spat het.

Maar hy moenie te lank feesvier nie, want Kevin beplan reeds om die 150 spronge tot 250 te vermeerder, al het Guinness nog nie die Australiër se rekord bevestig nie.

“Ek is glad nie bitter dat hy my rekord verbeter het nie. Welgedaan, ou maat! Maar ek gaan in Februarie probeer om 250 keer by die Bloukrans-brug te reksprong,” het Kevin aan Huisgenoot gesê.

In 2011 het Kevin (51), ’n bestuurder in die mynbedryf in Johannesburg, sowat R650 000 uitgehaal om die Bloukrans-brug vir die dag te bespreek en Guinness-personeel na Suid-Afrika te bring om die rekord-poging te erken; dié bedrag kom gedeeltelik uit sy sak én borge s’n.

Maar ná 7 uur en 42 minute, toe hy eindelik die ou rekord van 104 spronge met een oortref het, het slegte en yskoue weer hom gekeer om die ou rekord ordentlik ore aan te sit.

“Dit was net te koud. Ek het probeer om ’n blaaskans te vat en myself weer warm te kry, maar ek is aangeraai om liewer op 105 op te hou.”

“Ek het nog twee keer daarna gespring en eintlik 107 keer spronge voltooi, maar net 105 is deur Guinness erken.”

Hoewel hy sy hoed afhaal vir Jay, twyfel Kevin of die Australiër se rekordpoging erken sal word omdat Jay van ’n hyskraan van 40 m-hoog gespring het – en hý van ’n brug van 216 m.

“Dit maak ’n groot verskil: Hoe verder jy val, hoe meer is die terugslag – en dit is meer veeleisend op die liggaam as ’n sprong van net 40 m.”

Maar net ingeval Jay Guinness se goedkeuring gaan kry, wil Kevin die Suid-Afrikaanse vlag laat wapper en seker maak die rekord kom weer huis toe.

“Ek het in die 90’s my dy- en heupbeen beseer; ek het nou nog ná vier operasies penne in my heup en dis seer wanneer ek reksprong.

“Maar ná 20 spronge vergeet ’n mens van die pyn en probeer ek dit net geniet, en dis wat my grootliks gaan motiveer om in Februarie doodseker te maak dié rekord bly Suid-Afrika s’n.

“Hopelik is dit dié keer ’n baie sonnige dag en kelder slegte weer nie my planne nie.”

– Christiaan Boonzaier