Maar daar is ’n strik. Hy het dit so koel soos ’n komkommer gedoen terwyl ’n tornado in die agtergrond gewoed het!

Theunis Wessels woon al vir sewe jaar in Three Hills, Kanada. Hy het verlede week Vrydag besluit hy móét doodeenvoudig die grassny.

Hy het aan die Kanadese nuusagentskap, CBCNews gesê hy het ’n ogie op die tornado gehou.

“In die foto lyk dit baie naby, maar eintlik was die tornado baie ver van ons huis af,” sê hy.

Sy vrou Cecilia het die skreeusnaakse foto op Facebook gelaai.

“My beast is besig om die gras te sny met ’n briesie in sy hare,” het sy by die foto geskryf.

In die foto kan gesien word hoe Theunis heel rustig besig is om die gras te sny terwyl die tornado agter hom onmin saai.

“Ek wou net ’n foto neem om vir my ma-hulle in Suid-Afrika te wys, en nou vra almal my hoekom my man die grassny wanneer daar ’n tornado is,” het sy aan die Kanadese koerant, Times Colonist gesê.

“Almal het op hulle stoepe gesit en foto’s geneem van die tornado.”

Haar foto is al meer as 1400 keer op Facebook gedeel.

Niemand is beseer tydens die tornado nie.

Bronne: Times Colonist, CBCNews