FOTO: GALLO IMAGES/AFP

Die Suid-Afrikaanse fietsryer Daryl Impey het gister die geskiedenisboeke herskryf toe hy die eerste mens in Afrika geword het om die voortou in die Tour de France-fietswedren te neem en die geeltrui te dra.

Hoewel hy gister in die sesde skof tussen Aix-en-Provence en Montpellier 13de geëindig het, het hy en sy Orica GreenEdge-span in die vorige vyf skofte genoeg stoom gebou om die algehele voorloper te word.

“Gister was ’n fantastiese dag,” het Daryl oor die Kaapse radiostasie Kfm gesê. “Dit gaan waarskynlik die grootste oomblik van my loopbaan wees.

“Om dit ook vir Suid-Afrika te doen en dit vir hulle te dra is ook ’n groot eer.”

Die resies, wat vanjaar vir die honderdste keer gehou word, is egter nog lank nie verby nie; nog 15 skofte moet afgelê word voor die algehele wenner oor die wenstreep ry.

“As alles goed afloop, behoort ons die geeltrui nog vandag te hou,” het Daryl oor die sewende skof tussen Montpellier en Albi gesê; dié 205,5 km-skof word vandag afgelê.

“Dit sal wel moeilik wees om te verdedig as die wedren oor die Pireneë-bergreeks beweeg, maar ons sal dit verdedig so lank as wat ons kan.”

– Christiaan Boonzaier

Ekstra bronne: letour.fr, supersport.com, bicycling.co.za