Die Afrikaanse sanger .

Willem is deel van die Belarussiese span wat gisteraand na die eindstryd in Swede deurgedring het. Dié wêreldbekende wedstryd word al van 1956 af jaarliks gehou en behels dat elke Europese land ’n liedjie inskryf en kykers die beste liedjie kies. Willem-hulle sing die lied Solayo!

Oor sy ervaring tot dusver sê Willem: “Die atmosfeer is ongelooflik, ek kan dit eintlik nie beskryf nie! Alles is groter as wat ek my dit kon voorstel.” Maar hy was vooraf nie te senuagtig nie. “Ons oefen al ’n maand aan die optrede; so teen die tyd dat ek op die verhoog gekom het vir gisteraand se halfeindronde, het dit soos tweede natuurgevoel, maar die adrenalien was hoog!”

Dis anders as sy solo-optredes omdat alles hier oor spanwerk gaan. “Ek is ook nie eintlik ’n danser nie; so ek het baie streng afrigting gekry. Ons het saam met een van die wêreld se bekendste choreograwe gewerk.”

Die span bestaan uit Aljona Lanskaja van Belarus, drie agtergrondsangers (Marija Lazic en Ana Masulovic van Serwië sing saam met Willem) en twee dansers van Duitsland en Slowenië. Dan het hulle ook ’n ondersteuningspan van 20 mense met onder meer ’n oor- neus-en-keelspesialis, twee stileerders, ’n stemafrigter, choreograaf en ’n hele TV-span.

“Vir my is die lekkerste deel van die ervaring al die nuwe mense van verskillende kulture wat ek ontmoet.”

En hoe op aarde het dit gebeur dat dié Suid-Afrikaner saam met die span van Belarus deelneem? Willem lag. “Die kort weergawe? Iemand in België het my raakgesien en voorgestel aan die liedjieskrywer van Switzerland. Hy en die organiseerders van Belarus het van my stem en voorkoms gehou en met my begin gesels oor die moontlikheid.”

Maar Willem moes amper die wonderlike geleentheid misloop. “Ek was eintlik besig om Donkerland te verfilm en ek moes my twee week lange toer saam met Monique en Dewald Wasserfal met twee weke aanskuif.”

Vandag is die eerste dag die afgelope 23 dae dat hulle vry het en nie oefen niee. “Maar ten spyte hiervan het ek al ongelooflike plekke gesien in hierdie tyd: Serwië, België, Belarus en Swede.”

Die finaal is Saterdag. “Voor dan sal ons weer ’n paar keer oefen om seker te maak ons bly in ritme.”

Meer as 100 miljoen mense uit 44 lande sal Saterdagaand na die uitsending kyk. Suid-Afrikaners kan dit ook volg op DStv- kanaal 431 van 21:00 af.