Pieter du Preez (34), ’n aktuariële ontleder by Deloitte in Johannesburg, het op 8 Desember in Busselton, Wes-Australië, die volle 226 km binne 13 uur en 24 minute voltooi. Dis amper vier uur beter as die streng afsnytyd.

Pieter, wat in 2012 aan die Paralimpiese Spele in Londen deelgeneem het, was 23 jaar oud toe hy verlam is in ’n fietsongeluk. Van toe af is hy ’n C6-kwadrupleeg, wat beteken hy kan net sy kop, skouers en arms beweeg.

Maar dié man, wat van jongs af ’n beroepsdriekamp-atleet wou word, laat hom nie onder kry nie. Om te kan swem het hy ’n spesiale dubbelarm-rugslag ontwikkel. “Dis soos vlinderslag op jou rug,” verduidelik Pieter, wat die hele 3,8 km in die see so geswem het.

Die 180 km fietsren het hy met ’n handfiets gery waarop hy plat lê, en die marathon met ’n spesiaal aangepaste driewiel-rolstoel.

’n Goeie vriend, Walter Lutsch, het Pieter heelpad ondersteun. “Met die swemmery het hy gesorg dat ek op die roete bly, want ek kan nie omdraai om te kyk waarheen ek swem nie. Met die fietsry het hy agter my gery en my natgespuit omdat ek weens my nekbesering nie kan sweet nie en die risiko loop om te oorverhit. Met die hardloop, of stoot in my geval, het hy vooruitgegaan om die ander atlete te waarsku daar kom ’n rolstoel aan,” vertel Pieter.

Wat sy prestasie soveel uitsonderliker maak, is dat Pieter ses weke voor die die ystermanbyeenkoms sy linkerarm gedurende die 94.7-fietsresies gebreek het. “’n Onervare fietsryer het voor my ’n U-draai gemaak en ek het in sy fiets se vurk vasgery en my voorarm op drie plekke gebreek,” vertel Pieter.

Die been moes met ’n plaat en skroewe geheg word en sy arm is twee weke in gips gesit.

“Die dokters het almal gesê ek moet liewer nie die Ysterman doen nie, maar ek is mos ’n gelowige ou,” sê Pieter.

Hy het vir hom spesiale stutte vir sy arm laat maak waarmee hy kon oefen al was dit seer en het volhard met sy tjokvol oefenprogram.

Vyf maande het hy sewe dae per week gemiddeld vyf uur per dag geoefen.

Nou, ná die sukses in Australië, hoop hy hy kan volgende jaar aan die Ysterman-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Hawaii deelneem. “Ek het Australië se Ysterman gekies omdat die roete plat is. Hawaii s’n is die moeilikste. Dis warm, tot 40 ºC, en daar’s baie bulte. Ek wag nou om te hoor of my tyd goed genoeg is om deel te neem. My storie is darem spesiaal; ek hoop dit tel in my guns,” sê hy hoopvol.

[post-slider]