Maar sy lang kankerstryd het Simon Hobday (76) Woensdagnag verloor. Simon het 17 beroepstoernooie gewen, onder meer die SA Ope in 1971. In 2013 is hy vereer toe hy ingehuldig is in die Suid-Afrikaanse Gholf-heldesaal. Hoewel hy die meeste van sy tyd in Suid-Afrika deurgebring het, het hy sedert hy in 1969 ’n beroepspeler geword het, ook in Europa en Amerika die stokke met sukses geswaai. Hy was bekend vir sy onnutsige en soms oneerbiedige humorsin. Talle mense beskou hom as die een van die snaaksste en gewildste gholfspelers van alle tye.

Een van die herinnerings wat Nick Price ’n paar jaar gelede oor Simon gedeel het, is van die keer toe hy vir ’n spoedoortreding vasgetrek is. Die verkeerskonstabel het glo laat hoor hulle wag al heeldag vir ouens soos hy. Simon se reaksie? “Ek het so vinnig ek kon hier uitgekom.” Toe weerlig sy nuwe grasdakhuis in puin lê, was sy oplossing om by die voltooiing van sy volgende huis wel ’n regte daknatmaak-partytjie te hou en nie die konvensionele “house-warming”, soos dit in Engels genoem word nie. Simon sou ook per geleentheid gesê het dat die verskil tussen gholf in sy jong dae en nou daarin lê dat sy houe korter is en die spel langer duur. Simon is op 23 Junie 1940 in Mafikeng (deesdae in Noordwes) gebore, maar het met tye ook in Zambië en die destydse Rhodesië (Zimbabwe) gewoon.

Bykomende bronne: sport24.co.za, golfpunk.enjoymangs.com