Zack du Plessis (62), wat ons almal leer ken het as die familieman Hendrik van Tonder in die TV-sitkom Orkney Snork Nie, is vanoggend twee uur by sy huis in Pretoria oorlede.

Hy het vir ‘n geruime tyd al aan emfiseem gely, maar dis nie seker of dit die oorsaak van sy dood was nie.

“’n Siekbed is ‘n lelike ding jong,” het sy bestuurder Charles Claassen vanoggend gesê, “…selfs ek en sy vrou het van tyd tot tyd nie geweet hoe erg dinge is nie. Dit sou met hom goed gaan vir ‘n ruk, en dan sou hy weer ‘n terugslag beleef.”

Charles vertel dit het sedert eergister weer slegter begin gaan met Zack.

Hy was tot onlangs toe nog betrokke by Ollie Viljoen en Sarah Theron se produksie Stoepstories, en was in die verlede ook te sien as Soon in Koöperasiestories en het ‘n klein rolletjie in Leon Schuster se Mr Bones gespeel.

Hy is veral bekend vir sy rol in Vetkoekpaleis.

Zack laat sy vrou, die aktrise Magda van Biljon, en twee volwasse kinders Wenef en Bernice agter.

Volg Huisgenoot op Twitter.