En daar laat spat Suid-Afrika nog ’n rekord!

Teen ’n spoed van net onder die 1 km/h het Bertie ’n ereplek in die Guinness Book of Records verdien.

Bertie het 100 m in ’n rekordtyd van ses minute afgelê en so die vorige rekordhouer, Charlie, ’n skilpad van Yorkshire, se rekord verpletter. Charlie het die ereplek sedert 1977 beklee.

Kundiges meen die Usain Bolt van die skilpadwêreld kan twee maal vinniger as ’n gewone skilpad beweeg.

Hy het die nuwe wêreldrekord verlede jaar opgestel by ’n geleentheid in Adventure Valley in Durham, Engeland.

Sy eienaar, Marco Calzini, het aan SkyNews gesê: “Bertie bly nou in ’n luukse kampie saam met sy vriendin, Shelly.”

Die sertifikaat wat sy rekord erken, hang trots teen die muur.

Marco meen Bertie is so rats danksy ’n energieryke dieet, wat onder meer aarbeie insluit.

Bronne: SkyNews; BBC