Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese atleet en handfietsryer Ernst van Dyk was by die Boston-marathon toe twee bomontploffings dié sportgeleentheid tot stilstand geruk het.

Minstens drie mense is dood en nog talle beseer toe die twee bomme Maandag naby die eindstreep van die Boston-marathon ontplof het, het die polisie in Boston gesê.

Van Dyk was reg oorkant die straat van die tweede ontploffing en het dit sien gebeur.

“Was by ’n geleentheid ná die wedloop toe tweede ontploffing oorkant die straat afgaan. Was aaklig om dit alles te sien gebeur,” het Van Dyk op sy Twitter-blad geskryf.

“Ek wil net vir almal laat weet dat ek oukei is. Dit gaan rof hier buite en ek dink aan almal wat beseer is,” het hy bygevoeg.

Van Dyk het die Boston-marathon reeds nege keer in ’n rolstoel gewen.

Niemand is tot dusver weens die voorval in hegtenis geneem nie, maar die plaaslike polisie het bevestig hulle het ’n verdagte uitgeken.

[caption id="attachment_24642" align="alignnone" width="300"]'n Twitter-foto van die eerste ontploffing. 'n Twitter-foto van die eerste ontploffing.[/caption]