Dis weer tyd vir toetsrugby op die atmosfeerryke Nuweland - op sigself gewis iets om na uit te sien. Maar daar's natuurlik nog soveel ander redes waarom aanhangers skaars kan wag vir die afskop teen Ierland om 17:00...

Soos Wynand Claassen, oud-Bokkaptein, sê: "’n Mens wil graag eerstens sien watter rigting ’n nuwe Bokspan onder Allister Coetzee as nuwe afrigter inslaan... Almal wil graag sien wat die aanslag, die spelbenadering gaan wees."

En hoe nuwelinge en nuwe kombinasies gaan vaar: "Byvoorbeeld Faf de Klerk, ’n baie opwindende speler, as skakelmaat vir Pat Lambie." Daar's natuurlik ook sprake dat Faf hom later in die wedstryd langs sy Lions-makker Elton Jantjies kan bevind met Pat wat heelagter toe skuif.

Wynand meen ook die middelveld lyk baie belowend noudat Lionel Mapoe Damian de Allende se sentermaat word.

Ierland is wel sleutelspelers weens besering kwyt, vernaam hul losskakel Jonathan Sexton. Maar ons durf hulle nie onderskat nie, sê Wynand, wat juis destyds sy debuut teen die Iere op Nuweland gemaak het.

"Hulle speel gewoonlik met begeestering, hulle het ongelooflike passie vir hul land en kan dinge vir jou baie moeilik maak. Hulle is baie goed in die stryd om die losbal en op die teenaanval. Dus sal ons verdediging goed moet wees en sal ons al ons kanse moet benut.

"En ja, dit gaan ook baie interessant wees om [die SA boorling] CJ Stander teen die Bokke in aksie te sien!"

Dis ’n nuwe era vir SA rugby, beaam die legendariese Bok-flank Rob Louw. "Die Nuweland-skare kan ’n groot motiverende faktor vir ons wees." Allister het duidelik seker gemaak hy behou genoeg ervaring, "want jy wil natuurlik jou eerste toets wen". Maar dis interessant om soveel Lions en heelparty aanvallende spelers in die 23-tal te sien. Rob brand om te sien of ons hardlooprugby gaan speel. "Ek hoop regtig so..." Dat dit Faf se eerste toets is - "altyd moeilik" - en of hy die nodige ritme aan die agterlyn gaan help voorsien, kan ’n belangrike faktor wees, meen Rob. KRAGMETINGS OM DOP TE HOU:

Kaptein en haker:

ADRIAAN STRAUSS (30)

54 toetse, 1,84 m, 114 kg

&

RORY BEST (33)

94 toetse, 1,8 m, 105 kg

Agtsteman:

DUANE VERMEULEN (29)

35 toetse, 1,93 m, 116 kg

&

JAMIE HEASLIP (32)

85 toetse, 1,93 m, 110 kg

Losskakel:

PAT LAMBIE (25)

50 toetse, 1,78 m, 87 kg

&

PADDY JACKSON (24)

13 toetse, 1,78 m, 87 kg

Flank, afbreekpunte:

FRANCOIS LOUW (30)

43 toetse, 1,9 m, 114 kg

&

CJ STANDER (26)

5 toetse, 1,88 m, 114 kg

Breker-slot:

EBEN ETZEBETH (24)

44 toetse, 2,04 m, 117 kg

&

IAIN HENDERSON (24) 23 toetse, 1,98 m, 121 kg KITSFEITE:

  • Land teen land: Gespeel 22 * Suid-Afrika wen 16 * Ierland wen 5 * Gelykop - 1
  • Laaste toetsuitslag: Bokke verloor 15-29 in Dublin, grootliks weens Jonathan Sexton se giftige skopskoen.
  • Skeidsregter: Mathieu Raynal van Frankryk. SA se eerste toets met hom as blaser.
  • Die Bokke & Nuweland: Dis hul 52ste toets op DHL Nuweland. Hulle het voorheen hier 35 wedstryde gewen, 14 verloor en in twee gelykop gespeel.

Statistieke: SARU en IRFU